top of page

‘n Ander Wêreld Is Moontlik

Resensie van Breytenbach se Notes from the Middle World


In Oktober 1997 het Breyten Breytenbach ‘n merkwaardige lesing ter ere van die Portugese skrywer Fernando Pessoa by die destydse Universiteit van Natal gegee, met die titel “Notes from the Middle World.” In 1998 is ‘n Afrikaanse weergawe van die lesing in die filosofiese tydskrif Fragmente gepubliseer.[i]


In die jare daarna het verwysings na die Middelwêreld hier en daar in Breytenbach se werk verskyn, sonder dat dit ‘n sentrale metafoor in sy werk geword het. In 2007, in ‘n onderhoud oor sy onlangs gepubliseerde Veil of Footsteps, het hy laat weet daardie boek is die eerste deel is van sy Middelwêreld-kwartet.


Twee verdere dele van hierdie vierluik het tot dusvêr verskyn: Intimate Stranger, wat oor die skryfkuns handel, en dan Notes from the Middle World, ‘n bundel opstelle en lesings oor die politiek en kultuur wat meestal in onlangse jare gepubliseer is, en wat ‘n hersiene weergawe van die Middelwêreld-lesing van 1997 insluit. Die vierde deel, Simon Snow, is nog nie gepubliseer nie.


Breytenbach se lesing oor die Middelwêreld is ‘n raaisel en ‘n avontuur. Dit begin soos ‘n reisverslag, hoewel jy nooit seker kan wees of dit gaan oor ‘n werklike of denkbeeldige streek nie: “Ek wil graag die lug proe en op wandeling gaan deur die Middelwêreld—wat miskien ‘n sinoniem is vir, en tog nie dieselfde is as die Global Village nie.” Maar die reisverslag verander in ‘n konstruksie van die self wat daardie wêreld bewoon, en dit word op sy beurt ‘n beskrywing van mag binne die huidige wêreldorde. Dit lei tot filosofiese bepeinsinge oor onverwagte onderwerpe; vertalings van gedigte deur Darwish, Cavafy en andere (wat uitgelaat word in die boek); lyste van plekke en persone; voorstelle vir ‘n estetika, ‘n etiek en ‘n hele denkstyl (hoe om ‘n nomade in jou hart te wees, al bly jy by die huis).


Die geheelbeeld wat opgeroep word herinner aan die kosmopolitiese stadslewe aan die rand van empires wat kwyn of wat reeds verkrummel het: Cavafy se Alexandrië na die val van die Ottomans; Kafka se Praag; Beiroet; Tangier; miskien ook Uys Krige se Barcelona of die Boheemse Kaapstad van die 1950s.


Wat maak Breytenbach daarmee? Die internasionale versetsbeweging teen globale kapitalisme, vanaf die Zapatistas in 1994 deur Seattle in 1999 tot die World Social Forum en hoeveel vorms van plaaslike verset, deel die slagspreuk: “’n Ander wêreld is moontlik.” In sy verbeelding van ‘n Middelwêreld, skep hy elemente van ‘n samelewing sonder die mag van die korporasie en die staat. Hy wys vir ons hoe so ‘n wêreld kan lyk en maak dit tasbaar, sonder om dit te romantiseer of in die vaste vorm van ‘n bloudruk te giet—‘n wêreld van aanhoudende beweging, wat gerig word nie deur winsmotief of ‘n vyfjaarplan nie, maar deur droom, begeerte en toeval.


Notes from the Middle World is vol insigte en verrassings en nuwe perspektiewe. Wanneer laas het jy ‘n tronkvoël se toespraak voor ‘n internasionale kongres van tronkbewaarders gelees? Selfs Borges se mond sou oopgehang het!


Soos met enige versameling opstelle en lesings, is daar herhaling en swakhede. Die opstel wat die meeste opslae gewek het, is ‘n ope brief aan Mandela van 2008. Die kenmerk daarvan is besluitloosheid. Breytenbach prys byvoorbeeld vir Mandela omdat hy ‘n burgeroorlog in Suid-Afrika verhoed het, en voeg dan by: “Some will say you could only do so by aborting the revolution.” Is dit Breytenbach self wat so sê? Neem hy Mandela daarvoor kwalik? Elders ontwikkel hy skerp analises van die onderhandelde skikking van die 1990s, maar hier nie.


Breytenbach se raad aan ‘n jong Suid-Afrikaner wat hom vra of hy moet bly of gaan, het die nuusblaaie gehaal. Maar Breytenbach se raad (om te emigreer) is so vol voorbehoude (“if you can amputate yourself,” ens.) dat dit nie veel beteken nie.


Hierdie en ander opstelle in Notes from the Middle World kan seker gelees word as kritiek vanuit die oogpunt van die Middelwêreld-bewoner. Die Middelwêreld-gedagte is orals aanwesig, maar of dit hier ontwikkel word, is ‘n ander vraag.


Waar Breytenbach se Middelwêreld-projek myns insiens werklik beslag kry, is in die digbundel ter nagedagtenis van die Palestynse digter Mahmoud Darwish (of Magmoed Darwiesj, soos Breytenbach sy naam verafrikaans), Oorblyfsel/Voice Over—die vyfde deel van die vierluik. Breytenbach se vertelling van hoe “ons ‘n volk [sal] wees, as ons wil,” vleg Suid-Afrikaanse en Palestynse beelde bymekaar, sodat hierdie toekomstige volkere konkreet en universeel word: ‘n Middelwêreld wat ook ‘n hele wêreld-in-wording is, as die digter ons eers geleer het hoe om dit raak te sien!

[i] Published in Die Burger, 22 March 2010.

bottom of page