top of page

Kan die Akademie Uitnemendheid Oorleef?

Voordrag aan die Stellenbosch Woordfees, 13 Oktober 2022


Andrew Nash


Gedurende die laaste twee dekades of meer, het die idee van uitnemendheid al hoe meer die selfbeeld en praktyk van die universiteitswese oorheers. In die proses, het dit feitlik die doel, werkswyse en kultuur van universiteit verander. Dit is moeilik om aan ‘n omwenteling te dink wat ewe vinnig plaasgevind het, ewe verreikend was, en ook so ondeurdag.


Die idee en praktyk van uitnemendheid—en veral die gebruik van ranglyste waarmee die prestasie van instellings, departemente, en individuele akademici gemeet word—word nou gesien as onvermydelike riglyn vir hoër onderwys. Ek meen dat dit groot skade aanrig, en die hele toekoms van die akademie—en van intellektuele vorming en ondersoek, soos dit oor die eeue ontwikkel het—in gevaar stel.


Hierdie idee van uitnemendheid het sy oorsprong in die Amerikaanse universiteitswese in die laaste dekades van die twintigste eeu. Uitnemendheid het kort daarna sy verskyning in Suid-Afrika gemaak. Vandag word dit dikwels as vanselfsprekende maatstaf beskou, asof middelmatigheid die enigste alternatief is.


Ek wil kortliks oor drie aspekte van hierdie kwessie praat: Eerstens, waar kom die ranglyste vandaan, en hoe het hulle so ‘n houvas op die universiteitswese gekry? Tweedens, wat is die nuwe stelsel van akademiese publikasie wat saam daarmee ontwikkel het? Derdens, wat is die rol van taal—en veral die Engelse taal—binne hierdie stelsel?


Daar word vandag baie oor die toekoms van Afrikaans gepraat, en met reg; maar (as Engelssprekende) wil ek ook Engels probeer beskerm teen die skade wat deur die kultuur van uitnemendheid gedoen word.


I


Waar kom die ranglyste vandaan? Om die vraag te beantwoord, maak ek gebruik van ‘n opstel wat ek ‘n jaar of twee gelede vir LitNet se webwerf geskryf het: https://www.litnet.co.za/us-taaldebat-2021-die-oortjies-van-die-seekoei/.


Die verhaal begin met die samesmelting van twee nuusblaaie in 1948 om die US News and World Report tot stand te bring. Hierdie tydskrif was in sommige opsigte soortgelyk aan die twee leidende weeklikse nuusblaaie in die Verenigde State, Time en Newsweek. In ‘n tyd—na die Groot Depressie en die Tweede Wereldoorlog—waarin allerhande nuwe verbruikersprodukte in die VSA beskikbaar geword het, het US News and World Report bekend geword vir hulle berigte oor huishoudelike produkte: yskaste, haardroërs, grassnyers, en ander verbruikersitems. ‘n Toeganklike manier om hierdie soort joernalistiek te bedryf, was om die bekendste van hierdie items in ‘n ranglys uiteen te sit. Hierdie ranglys-formaat gee ook vir vervaardigers van hierdie produkte motivering om meer inligting vinniger aan joernaliste te verskaf, met die gedagte dat ‘n goeie plek in die ranglyste hulle verkope sal verbeter.


In 1983 het die nuusblad ook begin met ranglyste vir Amerikaanse kolleges en universiteite, met rofweg dieselfde beginsel van waarde vir geld in gedagte. Hoër onderwys het destyds vinnig uitgebrei, en US News and World Report se jaarlikse ranglys van kolleges en universiteite was ‘n groot kommersiële sukses. Die joernaliste wat voorheen fietse en visstokke beoordeel het, het begin om universiteite te evalueer en op ‘n ranglys te plaas. Die bylaag wat jaarliks met hierdie ranglyste verskyn het, kort voor die tyd dat aansoeke ingelewer moes word vir die komende jaar se toelating, het geweldige verkope gehad. Waar universiteitsonderwys voorheen hoofsaaklik vir ‘n klein elite toeganklik was, het dit in daardie dekades geweldig uitgebrei, en voornemende studente en hulle ouers wou weet waar en wat hulle kon studeer en wat vir hulle die beste opsie sou wees.


‘n Universiteit is meer kompleks as ‘n fiets of ‘n visstok, en moeiliker om te beoordeel. Maar daarom was daar waarskynlik maar behoefte aan inligting oor universiteite.


In 1990 het US News and World Report besluit om ranglyste vir nagraadse programme en beroepskole (regte, medies, ens.) by te voeg. So het hulle op hulle sukses voortgebou. Maar hierdie sukses het binnekort vir hulle begin inhaal, soos ander tot hierdie nuwe mark toegetree het.


Teen hierdie tyd, het sommige universiteite en kolleges reeds gekla oor US News and World Report se oppervlakkige en soms foutiewe indrukke, en van hierdie instellings het hulle samewerking onttrek. US News and World Report se reaksie hierop was om universiteite wat nie met hulle wou saamwerk nie nog altyd by hul ranglyste in te sluit, maar heelwat laer in die ranglys as voorheen te plaas. Hulle het begin met Sarah Lawrence College, ‘n klein kollege in New York-deelstaat, wat onderrig gegee het deur die Oxford-metode van individuele tutoriaal gesprekke, tussen student en dosent, wat onmoontlik volledig aan ‘n buitestander gerapporteer kon word.


Al hoe meer ranglyste het tot hierdie nuwe mark toegetree. Vandag is daar meer as twintig agentskappe wat globale ranglyste aanbied, met QS (Quacquirelli Symonds), THE (Times Higher Education) en World Academic Rankings (oftewel Shanghai) in die voorste plekke. Die Shanghai-ranglys was die eerste wat gepoog het om universiteite dwarsdeur die wêreld op een skaal te plaas, beginnende in 2003.


Eerder as om ranglyste te gebruik om koerante te verkoop, het hierdie agentskappe winsgewend geword deur om universiteite te laat betaal vir die agentskappe se oordeel. In ‘n sin betaal die universiteite drie keer vir hierdie diens: vir die agentskappe se beoordeling; vir hulle eie samestelling van die data wat die agentskap gebruik om die universiteit te beoordeel; en dan vir sogenaamde konsultante, wat raad kan gee oor hoe jou plek in die ranglyste op te stoot.


Die ranglyste is daar onder die voorwendsel dat dit deursigtigheid bevorder. Maar deursigtigheid word as heeltemal onnodig beskou as dit kom die bedrae wat universiteite vir die hele oefening betaal.


Soos universiteite met mekaar vergelyk word, het die ranglyste ook uitgebrei na departemente, vaktydskrifte en individuele akademici. Kort daarna het kursusse by universiteite ontwikkel om vir akademici te leer hoe om hulle prestasies te laat uitblink; dit wil sê, om die skyn van geleerdheid te kultiveer, eerder as geleerdheid self.


Hierdie proses lei dikwels—myns insiens, onvermydelik—tot meer gevorderde verneukery. Ek bedoel nie hiermee dat elke akademikus, of selfs die meerderheid, verneuk nie. Maar almal is onder druk om ‘n hoër plek op die ranglyste te soek, en daardie druk verskuif die grense van wat toelaatbaar is. Hierdie manipulasie word deel van ‘n groter akademiese kultuur, wat instellings deursyfer, vanaf die kanselier tot die jongste eerstejaar.


Mark Edmundsen se boek Why Teach? In Defense of a Real Education (2013) beskryf die subtiele maniere waarop hierdie kultuur het op die leerproses waar studente elke insig as ‘n klein transaksie beskou, en eers die waarde van die insig moet reken sodat hulle kan besluit hoeveel aandag dit werd is. Hy beskryf ook krasse tegnieke soos om die verhouding tussen die getal permanent-aangestelde akademiese personeel en die getal wat kort-termyn kontrakte het te vervals deur om tydelike personeel aan te stel met inwerking vanaf die dag nadat die verslag aan die ranglys-agentskappe ingedien word. Die ware verhouding tussen vaste en tydelike personeel word gegee, hoewel dit moontlik net op daardie een, enkele dag waar is. Die jongste en kwesbaarste personeel moet dan maar wag vir hulle salarisse.


Hierdie kultuur van uitnemendheid syfer deur tot alles wat in hoër onderwys gebeur. Een van die gevolge daarvan is wat die Amerikaanse filosoof Harry Frankfurt in 1986 beskryf het in sy kort artikel “On Bullshit” as blote onverskilligheid teenoor die waarheid, eerder as opsetlike leuens. Om dit te bereik, is dit veiliger om te streef vir dit wat nikseggend is, maar indrukwekkend. Frankfurt reken dat die verskil tussen wat waar en vals is al hoe minder belangrik word, soos akademici al hoe meer ander wil beïndruk, eerder as om ‘n oortuiging oor te dra. Die opkoms van bullshit word onvermydelik.


II


Binne hierdie kultuur van uitnemendheid word akademici aangemoedig om soveel moontlik in geakkrediteerde vaktydskrifte te publiseer. Die kriteria vir bevestiging van nuut-aangestelde dosente na hulle proef-tydperk stel dit voorop. Dit beteken nie dat hulle eksplisiet afgeraai word om nuwe kursusse te ontwerp en nuwe studie-materiaal te ontwikkel nie. Maar publikasies kan maklik getel kan word, asook die bydrae wat dit maak tot die universiteit se plek op die ranglyste. Dit beïnvloed dan die keuses van die nuut-aangestelde dosent tussen die opstel van nuwe kursusse of die skryf van ‘n artikel, asook die onderwerp van die artikel.


Die gehalte van geakkrediteerde vaktydskrif is wisselvallig. Maar die noodsaaklikheid van gereelde publikasie daarin lei ook tot die ontstaan van fop-vaktydskrifte. Almal met ‘n universiteit e-pos adres het seker teen die tyd honderde uitnodigings gekry met die opskrif “call for papers,” met uitnodigings om by hulle te publiseer (en soms daarby sommer ‘n uitnodiging om hoofredakteur te word). Hierdie fop-tydskrifte sal elke voorlegging onmiddellik aanvaar, en eers daarna heftige fooie vra. Daar is universiteite wat tevrede is met die hoogklinkende titels van sulke tydskrifte, en akademici wat bevorder word op grond van hierdie bedrogspul. ‘n Bekende geval het in 2016 voorgekom toe die DA parlementslid en afgetrede professor Belinda Bozzoli uitgevind het dat die publikasies van die SAUK voorsitter, ‘n professor by UNISA, meestal in hierdie fop-kategorie geval het. Vgl: https://www.politicsweb.co.za/opinion/how-did-mbulaheni-maguvhe-become-a-unisa-professor.


In ‘n konteks waar die aantal sitasies van ‘n akademiese artikel getel word om die skrywer se “impak-faktor” te bereken, is daar nou ‘n gebruik waarvolgens akademici in dieselfde studieveld ooreenkom om mekaar se werk aan te haal in hul eie werk, in ruil vir aanhaling of sitasie deur ander lede van die betrokke sitasie-sindikaat. (Die Engelse term is citation circle.) Die verband van die sitasie met die artikel waarin dit gemaak word, hoef nie werklik te bestaan nie, want geen leser kan elke verwysing kontroleer nie. Op hierdie manier word elkeen se erkenning binne die bepaalde veld opgestoot word. Diegene wat nie by so ‘n sindikaat aansluit nie, sal gou agter raak in die skaal van uitnemendheid.


Sommige erkende vaktydskrifte het ook die praktyk begin om sitasie van ‘n sekere hoeveelheid artikels uit daardie spesifieke tydskrif te vereis as voorwaarde vir publikasie. Weereens is die gedagte dat almal daarby baat deur om die aansien van die tydskrif op te stoot waarin hulle eie artikel gepubliseer word. Die vereiste van die getal sitasies word eers na aanvaarding oorgedra. As selfs die gevestigde tydskrifte hierdie praktyk volg, is dit ‘n aanduiding van hoe diep loop dié soort verneukery.


Dit is nie net verneukery nie, maar ook ‘n misverstand oor die aard van akademiese werk, wat stadige ritmes het, sowel as vinnige; idees wat soms oor baie jare ontwikkel en ander wat vinnig reageer op argumente of ontwikkelinge. ‘n Universiteit is nie ‘n fabriek nie, en dit word verarm deur die poging om dit ‘n soort fabriek te maak.


In die proses om hul plek in die ranglyste te verbeter, verneuk die universiteite ook hulself, deur om reuse-winste wat akademiese uitgewers te skenk. Akademici skryf die artikels, redigeer die tydskrifte, en universiteite betaal groot bedrae om toegang tot hul die werk in dieselfde tydskrifte te kry. Die voorste uitgewers, veral Elsevier en Taylor & Francis, maak ongekende winste daaruit: https://www.theguardian.com/science/2017/jun/27/profitable-business-scientific-publishing-bad-for-science.


Die indruk wat ek het, is dat die redakteurs van baie vaktydskrifte lees self nie meer die bydraes wat aan hulle voorgelê word nie. Deur Google kan hulle moontlike beoordelaars opspoor, en hulle nooi om die betrokke voorlegging te beoordeel. Maar my ervaring is dat al hoe tydskrifte wil nie ‘n verslag oor die voorlegging lees nie, maar eerder ‘n telkaart, wat ‘n punt uit tien vra vir die verskeidenheid kategorieë; byvoorbeeld: oorspronklikheid, kennis van die studieveld, skryfstyl, e.d.m. Ek wonder of die redakteurs wat die puntelys wil sien, maar nie die verslag wil lees nie, net die pos van redakteur aanvaar het ter wille van die moontlikheid van bevordering wat dit bring. Die hele kultuur van uitnemendheid lei tot prioriteite wat agterstevoor is, waar akademici publiseer al hoe minder omdat hulle iets het om te sê, en al hoe meer iets soek om te sê, omdat hulle wil publiseer.


Die kar word al hoe meer gereeld voor die perd ingespan.


III


Omdat die stelsel van uitnemendheid noodwendig globaal is, werk dit gewoonlik in die guns van groter en ryker lande, met meer gevestigde universiteite, en teen kleiner lande en armer wêrelddele. Dit het dan ook ‘n groot invloed op die ontwikkeling van tale, hulle vooruitsigte en selfs hulle voortbestaan. Die kwessie van die ontwikkeling en voortbestaan van Afrikaans, en ander Suid-Afrikaanse tale, is daarom verbonde aan die kwessie van globalisering en die strewe na sogenaamde uitnemendheid. Engelstaligheid word juis gevier as die taal wat globale deure oopmaak, en toegang tot hoër plekke op die globale ranglyste.


In die kort termyn kry Engelssprekendes ‘n sekere voordeel hieruit, en dit lyk miskien asof die Engelse taal ook daardeur bevoordeel word. Maar dit is myns insiens ‘n misleidende en oppervlakkige indruk, asook ‘n misverstand oor die bron van die omvang en seggingskrag van die Engelse taal.


Die rede waarom Engels ‘n soveel groter woordeskat het as enige ander taal waarvan die woordeskat opgeteken is, is dat Engels (of wat uiteindelik die Engelse taal geword het) oor baie eeue die woorde en gebruike van al sy voorgangers geabsorbeer het, eerder om die ou woordeskat met die nuwe te vervang. Dit het te doen met die lang geskiedenis van verowering van verskillende streke van hierdie koue eiland, en soms van die eiland as geheel, deur sprekers van soveel ander Europese tale, soms ook met taal-wortels buite Europa.


Meer as vir enige ander taal, het hierdie geskiedenis dit moontlik gemaak om die verowerde woordeskat langs die woordeskat van die veroweraar te behou, eerder as om die ou woordeskat met die nuwe te vervang. Die Engels wat in die tyd van Shakespeare sy opbloei beleef het was ‘n produk van hierdie eiesoortige taalontwikkeling. Dit het ook daarvoor gesorg dat die Engelse taal die vermoë kon ontwikkel om groot gedeeltes van die woordeskat oor te neem van ander tale en volkere wat hulle teëgekom het in die eeue daarna waarin Engeland self ‘n koloniale veroweraar was, ook in Suid-Afrika.


Maar die woordeskat en seggingskrag van Engels is oor die eeue verryk deur die veelvoudige kontekste waarin dit gebruik moes word, ook om met anderstaliges te kommunikeer, insluitende anderstaliges wat vir baie eeue oor hulle geheers het. Wat met Engels vandag gebeur is in baie opsigte die teenoorgestelde. Engels word die heersende wêreldtaal veral as die taal van handel, in ‘n konteks waar Engels die taal van die maghebber is. Engelssprekendes kry die ongewone (maar twyfelagtige) voorreg om sprekers van een enkele taal te wees, om linguistiese konteks as’t ware te kan uitwis of te kan afskaal tot verkooptegniek.


Anders gestel, Engels beklee vandag al hoe meer die rol wat Latyn gehad het in Wes-Europa gedurende die laat middel-eeue, voordat die verskillende volkstale die plek van Latyn oorgeneem het in geleerdheid, regspleging, administrasie e.d.m. Net soos Latyn destyds, word Engels al hoe meer die taal wat jy gebruik nie om iets te sê nie, maar om ‘n indruk te maak, en om diegene met mag en rykdom te probeer beïndruk.


IV


In alle lewensterreine is ontwikkeling onvermydelik en selfs noodsaaklik, en ook in hoër onderwys. Die groot veranderings in hierdie veld het relatief stadig gebeur. Die sluiting van Plato se Akademie deur die Romeinse keiser Justinian in 529 het gevolg op eeue se debatvoering oor die klassieke en Christelike waardes. Dit was eers in die dertiende eeu dat die werke van Aristoteles herleef het, en die vyftiende eeu dat Plato se werke in die Italiaanse Renaissance weer ontdek is. ‘n Groot skuif in die karakter van hoër onderwys in die Weste het ‘n paar eeu later gekom, met die opkoms van die natuurwetenskappe, in die tydperk van Galileo, Newton en Descartes, asook die skuif vanaf Latyn as taal van geleerdheid na die volkstale.


Die strewe na uitnemendheid deur ranglyste kan gesien word as die resultaat van ‘n verdere ontwikkeling: die grootskaalse uitbreiding van hoër onderwys na die Tweede Wêreldoorlog, beginnende in die VSA, en die idee dat universiteite hoofsaaklik op ‘n suksesvolle loopbaan gerig is. Maar anders as al die vroeëre groot ontwikkelings het die kultuur van sogenaamde uitnemendheid van buite gekom, sonder enige betrokkenheid deur akademici of studente.


Dit alles gebeur in ‘n tyd waarin akademiese navorsing wel ‘n lewensbelangrike rol het om te speel in minstens een studieveld: die klimaat- en ekologiese krisis, wat al hoe groter en meer dringend word. Duisende navorsers is betrokke by die opstel van gereelde verslae wat deur die International Panel on Climate Change (IPCC) uitgebring word. Hulle werk verskaf die beste oorsig wat ons het oor die toekoms van biologiese lewe of ons planeet.


Die jongste en mees dringende verslag van die IPCC, uitgereik in April 2022, staan bekend as die Working Group III Report: Part Three of the Sixth Assessment Report addressing Mitigation; d.w.s., versagting van die skade wat deur verhitting veroorsaak word. Die verslag bevat meer as 2,900 bladsye; dit bevat bydraes deur 270 navorsers vanaf 67 lande, en is gebaseer op meer as 34,000 wetenskaplike studies. Om dit meer toeganklik te maak, is daar ook ‘n 67-bladsy samevatting, wat eers deur verteenwoordigers van regerings goedgekeur moet word, voordat dit vrygestel word. Hierdie samevatting is uitvoerig vervals deur verteenwoordigers van regerings, hoofsaaklik op die inisiatief van olie-produserende lande, maar met die instemming van ander regerings. Sien: https://climateandcapitalism.com/2022/04/28/how-vested-interests-rewrote-the-ipccs-latest-report/.


Net soos universiteite uitnemendheid nastreef, so ook olie-produsente en die regerings van olie-produserende lande. Ons kan vra: Watter weergawe van uitnemendheid is eerliker?


As die universiteite werklik ernstig was oor die kritieke waarde van akademiese navorsing en publikasie, was dit hulle geleentheid om dit te bewys. Maar in ‘n stelsel wat gerig is op mededinging vir hoër plekke op die ranglyste, het hulle maar stilgebly.


IV


Uitnemendheid versterk dit die idee dat akademiese prestasie hoofsaaklik in kwantitatiewe terme beskou moet word, en deur burokratiese prosedures gemeet word. Dit vereis nie dat kollegas of studente mekaar se werk lees of debatteer nie, of self daarvan weet nie, of dat hulle hulself as deel van ‘n gesamentlike strewe sien nie. Dit vereis net dat hulle almal dieselfde vorm elke jaar moet invul, en daarvolgens evalueer moet word.


Die onderliggende visie van die voorstanders van uitnemendheid is van ‘n wêreld waar alles beplan kan word, ook insig en inspirasie. Dit is ook ‘n visie waar daar uit alles ‘n wins gemaak kan word, alhoewel die akademie nog iets van ‘n langtermyn belegging is.


‘n Fabriek kan so werk, as die masjiene reg werk en die werkers is op hulle poste. Maar die menslike verstand is nie soos ‘n masjien nie; mense ontdek hulle eie belangstellings en insigte, eerder as om net bevele te volg. Dikwels is dit nie gesag of briljante insigte wat mense erken en volg, maar die egtheid waarmee iets geglo of gesê word, of die integriteit waarmee die betrokke persoon leef. Jy leer by mense wat self glo wat hulle sê, eerder as dié wat ‘n indruk probeer maak.


Integriteit kan nie gemeet word nie. ‘n Mens moet leer om integriteit te erken, terwyl uitnemendheid bloot van ‘n ranglys afgelees kan word, en vasgestel kan word deur om publikasies te tel en die rangorde van die tydskrifte waarin dit verskyn, vas te stel. Integriteit wat deel van ‘n advertensie-veldtog is, is nie meer integriteit nie. Integriteit kan nie gemeet word nie, maar daarsonder is die akademiese lewe ‘n bedrogspul en ‘n klug.


Voorstanders van uitnemendheid is dikwels trots op hoe byderwets is hulle siening van die akademiese lewe. Maar die wortels daarvan is ouer as wat hulle dink. Die stryd tussen uitnemendheid en sy teenstanders is in baie opsigte ‘n herhaling en voortsetting van ‘n stryd wat begin het in die tyd van Sokrates en die sofiste, in die vierde eeu voor Christus. Die leerstelling van die sofiste was dat die mens die maatstaf van alle dinge is. Dit is ‘n maatstaf wat die magshebbers in enige samelewing pas, en ek meen dit moet daarom teengestaan word, om plek vir kritiese denke te behou.


Só het ek op Stellenbosch geleer vyftig jaar gelede, in die klas van Johan Degenaar, en ek glo dit nog steeds.


12 Oktober 2022

bottom of page