top of page

Denke wat kan Dans: Johan Degenaar en die Kuns van Gesprek

Voordrag gelewer by die Filosofie Kafee by die Breytenbach-sentrum, Wellington, 6 Mei 2022


Andrew Nash


Terugblik, na vyftig jaar


Ek het onlangs besef dat dit nou reeds vyftig jaar gelede is dat ek Johan Degenaar vir die eerste keer teëgekom het.


Ek was ‘n regstudent aan die begin van my eerste jaar op Stellenbosch. Die regsfakulteit het vier verpligte vakke vir eerstejaars voorgeskryf, en ons moes elkeen ‘n vyfde vak kies uit ‘n groot verskeidenheid eerstejaar-vakke.


Ek was ‘n Engelssprekende kind uit Port Elizabeth (nou Gqeberha); ek het nooit tevore iets soos ‘n akademiese jaarboek gesien nie; en ek kon nie dink by wie ek raad hieroor kon vra nie. Toevallig het ek hierdie kwessie van die vyfde vak aan my tante, Mary Murray, genoem, terwyl ek in Kaapstad was, ‘n dag of twee voordat ek in Stellenbosch aangekom het. Sy was kurator van ‘n kunsgalery in Kerkstraat, ‘n skerpsinnige vrou met ‘n wye vriendekring en ‘n sofistikasie wat ek destyds spesifiek met Kaapstad verbind het, hoewel my tante self op ‘n plaas naby Upington grootgeword het. Sy het vir my gesê dat Staatsfilosofie die opsie was wat ek moes neem. (Rondom 1980 is die departement se naam verander na Politieke Filosofie.)


In die warboel van die koshuis se doop-verrigtinge het ek in die volgende week of twee nie weer aan vakkeuses gedink nie. Ek het van my tante se raad vergeet, totdat ons eerstejaars eendag in ‘n tou gestaan het om ons registrasie-vorms in te vul. Toe sit ek my regmerkie langs Staatsfilosofie, asof ek in ‘n onstuimige see na die naaste stuk dryfhout gryp, met geen teken van land in sig nie.


As ek nou—vyftig jaar later—daaraan terugdink, was daardie vakkeuse miskien die belangrikste besluit wat ek in my lewe geneem het. Ek het toe geen benul gehad van hoe daardie vakkeuse my lewe sou verander nie. Ek was by die departement betrokke, as student en dosent, tot einde 1986, toe die departement gesluit het, en die invloed op my van Johan Degenaar, André du Toit en studente in die departement duur nog voort.


Ek is dankbaar vir daardie ervaring; maar ek wens ook dat nuwe geslagte iets van dieselfde ervaring kan deel; ek verset my daarteen dat daardie wêreld maar net verdwyn. Daarom wil ek nou die gees van Degenaar se gesprek probeer terugroep. Hierdie kuns van gesprek was die hart van die departement, asook—soos ek ook sal verduidelik—die rede vir die departement se kortstondige bestaan.


Filosofiese gesprek op Stellenbosch


Degenaar self het altyd verwys na Sokrates, ‘n soort vader-figuur vir die Westerse filosofie, as die beginpunt van sy eie filosofiese trajek. In ‘n onderhoud wat hy met Pieter Duvenage gevoer het, vertel hy: “Ek sou sê my eerstejaar, my ontmoeting met Sokrates, was ‘n sentrale gebeurtenis in my lewe. En dit lyk my, as jy hom eers ontmoet het, dan los hy jou nie.”[i]


Degenaar het vir baie jare die eerste semester van sy eerstejaar-klasse aan Plato se Republiek gewy, beginnende met Plato se treffende portret van Sokrates midde-in die spanning en beweging van gesprek, voordat die figuur van Sokrates, later in die dialoog, al hoe meer ‘n spreekbuis vir Plato word. Aan die begin van die tweede jaar, het studente opdrag gekry om ‘n opstel te skryf oor Sokrates, met die fokus op sy verhoor en dood. Vir Degenaar was Sokrates ‘n lewende teenwoordigheid met wie hy sou stry en soms verskil, amper asof hy self teenwoordig was.


Maar Degenaar se styl van Sokratiese vraagstelling het ook oor die jare ontwikkel, en ‘n karakter van sy eie gekry, wat ek later in hierdie opstel sal probeer beskryf. Dit was waarskynlik nie ‘n doelbewuste proses van verandering nie, maar eerder ‘n reaksie op omstandighede wat heeltemal anders was as Sokrates s’n. Degenaar se aanpassing van die metode van Sokrates was, soos ek dit sien, ‘n spontane, tog deurdagte, reaksie op die vrae wat sy studente aan hom gestel het, asook die onderliggende vorms van hoop en vrees wat hy daarin kon raaksien.


Die figuur van Sokrates met wie Degenaar oorspronklik in debat was, was ook die produk van ‘n spesifieke filosofiese ontwikkeling, wat Sokrates veral in die lig van die eksistentialisme gesien het. Om dit te verduidelik, moet ek iets sê oor die filosofiese ontwikkelinge op Stellenbosch in Degenaar se studentejare.


Degenaar was deel van ‘n geslag filosofie-studente op Stellenbosch wat iets van ‘n rewolusie binne hulle vakgebied teweeggebring het. Die leidende figure in hierdie proses—Daantjie Oosthuizen en James Oglethorpe— was ‘n jaar of twee ouer as Degenaar. Hulle was meer aktief in die studentepolitiek, en hul filosofiese werk (veral Oosthuizen s’n) was in baie opsigte meer oorspronklik en afgerond as Degenaar s’n. Die filosofiese rewolusie op Stellenbosch in die 1940-jare is hoofsaaklik ter danke aan Oosthuizen se ontdekking van die filosofie van Soren Kierkegaard, die Deense filosoof wat in 1855 gesterf het, sonder erkenning in die breë filosofiese wêreld, totdat Walter Lowrie, ‘n afgetrede Amerikaanse priester, rondom 1940 sy werke in Engels begin vertaal het.[ii]


Kierkegaard se werk het Sokrates in ‘n nuwe lig gestel, as ‘n voorloper van die eksistensialisme: iemand vir wie die lewe ‘n ewigdurende waagstuk was; ‘n ontdekkingsreis na ‘n ongekende bestemming, waarin alleen getrouheid aan jou diepste self—eerder as tradisie of gesag—jou kon lei, en dan ook sonder ‘n sekere bestemming. Daardie uitnodiging was vir Degenaar en sy tydgenote onweerstaanbaar.


Hierdie opwelling van filosofiese energie op Stellenbosch in die 1940-jare was nie net aan Kirsten en sy studente te danke nie. Dit het ook gevolg op die oorwinning van die behoudende teologiese rigting in die Teologiese Kweekskool. Na ‘n stryd wat geduur het van 1926 tot 1932, het die voorstanders van “die ou paaie” daarin geslaag om die liberale prof. Johannes du Plessis van sy leerstoel te ontslaan. In die jare na die konserwatiewe oorwinning, het verveelde teologie-studente skaak gespeel in die klas, wetende dat hul professor nie sal opkyk van die notas wat hy voorlees nie. Om hulle verstand besig te hou, het hulle in groot getalle vir nagraadse werk by die Departement Filosofie ingeskryf.


Die oorwinning van die behoudende faksie in die kerk in 1932 het aanleiding gegee tot ‘n bloeityd vir die filosofie op Stellenbosch. In die vroeg dertigerjare was daar gewoonlik een of twee M.A. studente in filosofie en omtrent 40 in die universiteit as geheel. Teen 1933 was daar 13 M.A. studente in Filosofie uit 41 in die universiteit as geheel; in 1934 was daar 14 uit 42. Teen 1941 was daar vier D.Phil. studente in filosofie; teen 1945 was daar elf. Terselfdertyd het getalle by die Kweekskool gekwyn: van 43 in 1931 tot 12 in 1937, en 7 in 1939.[iii]


Volgens Degenaar se vertelling was hy maar net ‘n week of twee by die Kweekskool voordat hy sy inskrywing teruggetrek het. Oosthuizen en Oglethorpe het teologie-grade sowel as die lisensiaat voltooi, en terselfdertyd nagraadse werk in filosofie. Dit is moontlik dat Degenaar in die departement Filosofie aangestel is, juis omdat hy as die “veilige keuse” beskou is, in ‘n tyd van politieke en intellektuele spanning, binne die NG Kerk en in die aanloop en nasleep van die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning en bewindsoorname van 1948.


Degenaar se ontstellende gebede


Dit was eers in 1951, na sy terugkeer uit Groningen, dat Degenaar ‘n openbare figuur geword het. Vincent Brummer—‘n student in Degenaar se eerstejaarklas van daardie jaar—skryf oor hom: “Degenaar het ons ingelei in die idee van filosofiese redelikheid, waarvolgens alle idees, of hulle oud was of nuut, hulle eie redelikheid moes aantoon. Hy is nie altyd daarvoor bedank dat hy ons die eis van redelikheid laat stel nie. Veral op die terrein van godsdiens en politiek, waarin Degenaar belanggestel het, het dit probleme veroorsaak. In daardie tyd was daar dosente op Stellenbosch wat dit lastig gevind het dat die leerlinge van Degenaar lastige vrae gestel het en nie bereid was om die idees wat hierdie dosente voorgestaan het, sonder meer te aanvaar nie.”[iv]


In daardie tyd was dit die praktyk dat lesings wat teologie-studente bygewoon het, of studente wat hulle vir admissie tot die Teologiese Kweekskool voorberei het (sogenaamde admissante), met gebed sou begin. J. F. Kirsten, die professor en departementshoof van die departement Filosofie, het hierdie gebruik voortgesit. So ook Degenaar; hoewel met eiesoortige en ongewone gebede, wat vinnig bekend geword het.


Die bekendste van Degenaar se gebede het gelui: “Here, voorheen moes ons van mense Christene maak. Help ons nou om van Christene mense te maak.” Hierdie soort woordkuns het die konvensionele verhouding van bekende terme omgeruil, sodat bekende idees nuwe en verrassende betekenis kry. Die konvensionele verhouding tussen terme word nie soseer ontken nie; dit word eerder in ‘n nuwe lig gestel. Diegene wat dit aanhoor kan nie net terugval op wat hulle nog altyd geglo het nie. In plaas daarvan, moet hulle die hele konteks waarin die terme sin maak, begin herdink, sonder om te weet hoe die proses sou eindig.


Soms, waar die gebede van daardie tyd God aangespreek het as almagtig en verwyderd van hierdie wêreld, het Degenaar met God sy simpatie betuig, asof van naderby: “Dankie, Here, dat U hierdie aarde so liefgehad het, dat U uself gebreek het om hierheen te kom.” Ook: “Dankie vir die filosofie, wat ons help om die lewe van nader te beskou. Bevry ons van ons verbeelde sekerhede. Beskerm ons van nuwe sekerhede, en maak ons tevrede met die daaglikse brood wat U vanuit die hemel verskaf.” Sy tafelgebed was blote welwillendheid: “Dankie vir ons vriendskap, en maak ons bly.”


Degenaar het van die begin af ‘n geweldige impak op sy studente gemaak. Willie Esterhuyse het dit later so beskryf: “ ’n Meer begeesterde dosent as hy het ek nog nie teëgekom nie. Elke lesing was ‘n fees—dikwels meesleurend soos poësie. Sy vermoë om die wêreld van die filosofie vir studente toeganklik te maak en ‘n liefde vir die vak by hulle te kweek, is sekerlik ongeëwenaard. Soms het ek in die klas gesit en vir myself gesê: Hierdie man is betowerd; betowerd deur die denke self. Hy gaan ons nog almal onder die betowering van die filosofie plaas.”[v]


Die Stellenbosse establishment was nie gelukkig daarmee nie, maar dit was ook nie duidelik hoe hulle hierdie lastige filosoof tot orde kon roep, of van hom ontslae kon raak nie.


Uitnodiging tot die dans


Wat wel bekend is, is dat die universiteit in 1958 ‘n proses begin het wat gelei het tot die stigting van ‘n tweede departement van filosofie, met die spesifieke doel om Degenaar af te sonder van akademiese kontak met voornemende teologie-studente. Heel moontlik is dit beskou as ‘n manier om mettertyd van hom ontslae te raak. Die beginpunt van die proses was ‘n versoek aan die Universiteit van die Kuratorium van die Teologiese Kweekskool en die NG Kerk van Kaapland (die Teologiese Kweekskool was destyds onder die gesamentlike bestuur van die NG Kerk en die Universiteit van Stellenbosch).[vi]


In die volgende jaar het Degenaar verantwoordelikheid geneem vir die sogenaamde B-stroom in die Departement Filosofie. Na verskeie tussentydse maatreëls het die departement Staatsfilosofie in 1967 totstandgekom. In 1969 het André du Toit by Degenaar aangesluit in die nuwe departement.


Maar hoekom het die Stellenbosse owerhede—in die universiteit, die kerk en die Broederbond, veral—‘n hele agt jaar lank gewag het om die probleem wat Degenaar vir hulle gebied het, aan te spreek? My vermoede—oorspronklik op grond van Degenaar se vertelling—is dat ‘n vorige poging in 1954 om Degenaar tot orde te roep, misluk het.


Ek het daarvan bewus geword toe ek in 1986 afgekom het op die titel van ‘n artikel van Degenaar oor “’n Teologie van Dans,” wat in 1954 verskyn het in die Herdenkingsblad van die Admissiebond Stellenbosch 1933-54. Die B.A. (Admissie) was die voorgraadse vereiste vir studente wat daarna toelating gesoek het na die Teologiese Kweekskool; studente wat vir B.A. (Admissie) ingeskryf het, was bekend as admissante.


Hierdie publikasie het die een-en-twintigste verjaarsdag van die Admissiebond gevier; dit is skynbaar die enigste verjaarsdag van die Admissiebond wat só gevier is. Ek het in 1986 en daarna verskeie kere vir die tydskrif gesoek, maar kon eers in 2020 ‘n kopie daarvan in die hande kry. Ek raai dat daardie enkele oorblywende kopie deel was van die boedel van ‘n admissiestudent van baie jare tevore; ek het dit aanlyn by Protea Boekhandel gekoop.


(‘n PDF kopie van die hele publikasie is beskikbaar by: https://www.dialectic.co.za/post/degenaar-in-dialogue-part2 naby die begin van daardie opstel. Enigiemand wat belangstel, is welkom om dit af te laai. Sovêr ek weet, is dit nêrens elders beskikbaar nie.)


Toe ek Degenaar oor hierdie artikel vra, het hy geantwoord: “Hulle wou my vastrek.” Hy het verduidelik dat die kwessie van dans vir die teoloë destyds ‘n turksvy was. Hy het lank daaroor nagedink, en toe gesê: “Die kerk het gesê hulle is bang dat dans tot seks sou lei; maar waarvoor hulle eintlik bang was, is dat seks tot dans sal lei.” My indruk was toe, en bly nog, dat die episode van 1954 eintlik Degenaar se beslissende konfrontasie met die Stellenbosse owerhede was.


‘n Mens moet aanneem dat die owerhede die ligging van hierdie konfrontasie strategies gekies het. Die seksuele gedrag van veral jong mense is ‘n probleem vir die kerk en die samelewing (van daardie tyd en ander tye), omdat dit ‘n bedreiging kan wees vir die goeie naam van vooraanstaande families, asook huweliks-vooruitsigte en veral vooruitsigte waarby groot rykdom, en dus die erfporsies van toekomstige geslagte betrokke is. Daarom die vrees dat dans tot seks kon lei. As dit sou gebeur, kon die sweet en trane, strewes en gebede, van geslagte voorouers tot niet gemaak kon word.


Terselfdertyd was die kwessie van dans iets wat die kerk relatief versigtig moes benader. Hulle kon nie toesig hou oor alle kontak tussen mans en vrouens, of bevele gee aan jongmense se hormone nie, veral nie op ‘n universiteitsdorp nie. Die kerk moes voorhuwelikse seks probeer teengaan, maar nie op ‘n manier wat jongmense vir hulle laat lag of spot nie.


Maar Degenaar se omkeer van hierdie vraag het ‘n heel ander perspektief oopgemaak. Sy formulering oor hoe seks tot dans kon lei, beklemtoon die moontlikhede van die liggaam, eerder as die lokvalle: die ontdekking van die self en die ander, wanneer albei hulself aan mekaar met vertroue kan oorgee; hoe ons onsself opnuut ontdek deur onsself oor te gee aan die ander; hoe ons die vele dimensies van ons liggaam beleef en geniet.


Degenaar het teen daardie tyd waarskynlik reeds begin met sy kritiese ondersoek na die verhouding van die siel en die liggaam, wat later gepubliseer is met die titel: Die Sterflikheid van die Siel. “Wanneer liggaam as situasie gesien word, open dit die weg om seks te sien as ‘n aangeleentheid van die totale mens. . . . In die lig hiervan sou beweer kon word dat ons nie te veel seks in die moderne wêreld het nie, maar juis te min.”[vii]


Die uitnodiging aan Degenaar was natuurlik nie in daardie gees gerig nie. Dit was ‘n uitdaging, implisiet maar skaars weggesteek: As jy jou studente wil aanmoedig om met hulle denke te waag, wys ons dan almal openlik—ook vir die owerhede van kerk en universiteit, en die admissante van vorige en huidige geslagte—hoe waaghalsig jy self gaan wees, in jou behandeling van hierdie gevaarlike, maar onvermydelike, kwessie.


Dit was die uitdaging aan Degenaar, wat hom tot orde moes roep. Óf moes hy homself met die heersende siening skaar, óf moes hy dit openlik verwerp en vir altyd daarbuite staan, met sy weiering van die heersende opvattings aan almal ontbloot.


‘n Teologie van dans


Hoe het Degenaar op hierdie uitnodiging—of ultimatum—gereageer? Eerstens, het hy sy onderwerp behandel asof daar ‘n meervoud benaderings daartoe was; sy titel was ‘n Teologie van dans eerder as Die teologie van dans. Tweedens, benader hy die teologie wat hy wil bespreek as iets wat vir hom ook moeilik is om te begryp, maar nie om daardie rede van mindere waarde nie.


Dit blyk eers mettertyd dat hy besig is met die teologiese beskouinge van Gerardus van der Leeuw, ‘n kleurvolle figuur, skrywer van baanbrekende boeke in die godsdiensfilosofie en groot invloed op Degenaar gedurende sy tyd in Groningen. “Geen mens het al ooit so ‘n indruk op my gemaak nie,” sê Degenaar; “hoe verder die tyd my van hierdie ontmoeting verwyder des te digterby kom ek by hierdie digter van God en vriend van die mens.”[viii]


Volgens Degenaar, het van der Leeuw geglo dat alle teologie-studente hulle studie met dans-klasse moes begin. Vir van der Leeuw, laat dans Christene “die moontlikheid verstaan dat die mens eenmaal weer in sy oudste taal sal spreek. En dit is die taal van die dans waarin die mens spreek van die groot geheimenis van beweging en teenbeweging: die beweging wat uitgaan van hierdie aarde na God en dié wat uitgaan van God na hierdie aarde.”


Degenaar getuig van sy bewondering vir van der Leeuw, maar sluit sy bespreking af sonder om duidelik kant te kies oor die kwessie van dans: “My bewondering van prof. V.d. Leeuw het nooit beteken dat ek met al sy opvattinge noodwendig akkoord gaan nie. Nogtans het ek gevind dat hy ‘n persoon is na wie ‘n mens kan luister. En ek hoop dat ook hierdie paar gedagtes waarin die hemel en die dans in verband met mekaar gebring word, weliswaar op ‘n wyse waaraan u en ek nie gewoond is nie, ons belangstelling ook vir hierdie teoloog sal aanwakker.”


Degenaar spreek hier nie ‘n standpunt uit oor dans nie, en maak geen verwysing na seks nie. Hy het wel sy standpunt uitgespreek teen dogmatisme en ten gunste van billike oorweging van ‘n verskeidenheid standpunte. Hy wys hoe ‘n mens by ‘n gewaardeerde mentor kan leer en terselfdertyd jou eie mening kan vorm. Die veronderstellings van diegene wat die uitdaging na hom gerig het, word omgekeer en hy gee vir hulle ‘n beeld van hoe die filosofiese lewe daar kan uitsien.


Degenaar se kort opstel moet gelees word in die konteks van die Herdenkingsblad as geheel, met sy drie-en-twintig (meestal relatief kort) bydraes. Die oorweldigende meerderheid daarvan neem as uitgangspunt ‘n bedreiging vir die Christelike geloof, op Stellenbosch en elders; ‘n bedreiging wat alleen deur ‘n onvoorwaardelike oorgawe en geloof afgeweer kan word.


Die Herdenkingsblad begin met ‘n redaksionele inleiding deur die voorsitter van die Admissiebond, Jan Loubser, wat hierdie tema beklemtoon: “Ons is Christusbelyers. Saam met Paulus bely ons dat ons saam met Christus gekruisig is en ons leef nie meer nie maar Hy leef in ons.” Hierdie Bybelvers (Galasiërs 2:20) word keer op keer in die blad herhaal. Hieruit spruit Loubser se vraag: “Is ons tevrede met ‘n halwe Christus? Sien u kans om die Persoon van Christus in u lewenshouding te betrek? Nee! Christus spreek oorspronklik altyd deur die Woord. Hy gee vir u ‘n opdrag en Hy gee vir my ‘n opdrag. Onder hierdie spesifieke omstandighede is dit my plig omdat Hy so sê, afgesien van wat gister my plig was. . . . Hoe gebruik Satan nie één aspek van Sy Persoon om ons te verblind vir die wonderlike andersheid van elke ontmoeting met Hom nie” (p. 5)!


Die tema van onvoorwaardelike oorgawe waarmee Loubser begin, word reg deur die 48 bladsye van die Herdenkingsblad herhaal, en dieselfde Bybelverse word in verskeie studente-bydrae herhaal. Die begeerte word herhaaldelik uitgedruk om as Christen ‘n slaaf te wees. Selfverloëning, selfs selfkruisiging, is die roeping van die Christen. In soortgelyke trant, word ontdek dat “Christus is my Heer en ek is Sy slaaf” (p. 20) en selfs “die Diktator in my hart” (p. 28). Mens kry die indruk dat admissante hulself in ‘n soort gyselaar-situasie bevind. Midde-in ‘n heksejag, kan enigiets wat hulle skryf teen hulle gebruik word, en daarom kan hulle niks anders doen as om te pleit dat hulle reeds gekruisig is.


Die rektor van die universiteit, H.B. Thom wens die Admissiebond geluk dat hulle “met suiwerheid van blik en onverskrokkenheid van gees gehelp het om twyfel en dwaling te verdryf en sekerheid in menige jong hart te bring” (p. 7). Een van die professore wat tot die blad bydra, vaar uit teen ongenoemde dosente “wat die student allerlei vreemde opvattings inprent” en die kateder misbruik “vir die indoktrinasie van een of ander politieke of godsdienstige rigting” (pp. 13-14). Die vise-kanselier en voorsitter van die universiteitsraad, ds. J.S. Gericke, spreek die hoop uit “dat hierdie Bond ‘n middel in die hand van die Here sal wees om elke jaar aan ons Kweekskool ‘n aantal mondige gelowiges te lewer.” Die idee van geestelike mondigwording is een wat Degenaar uit die werk van Kant geleen het, waarop hy in sy doktorale tesis uitgebrei het en waarskynlik ook in sy lesings van destyds. Gericke wou dit in die veilige hande van die teologiese owerhede plaas.


In hierdie tydperk was Thom die nasionale voorsitter van die Broederbond, en Gericke die leidende figuur in die Stellenbosse tak van die Broederbond. Volgens my is dit waarskynlik dat hierdie die hele inisiatief sy oorsprong by die Broederbond gehad het, wat dit dan aan die Admissiebond voorgestel het. Ek kan dit nie bewys nie, maar dit pas by ‘n patroon wat in elke geskiedenis van die Broederbond van daardie tyd bevestig word.


Die Broederbonder wat die voorstel aan die admissante oorgedra het, kon enige van ‘n verskeidenheid koshuisvaders, kweekskool-studente of ander gesagsfigure gewees het. Maar dit is duidelik uit die Herdenkingsblad self dat die boodskap by die leidende figuur en sterkste stem onder die admissante, Jan Loubser, moes uitkom, wat woedend uitvaar teen volgelinge van “’n halwe Christus” (p. 5).


Loubser self het later sy rug gedraai op die NG Kerk en die Nasionale Party Hy het ‘n sosiologie-professor in Kanada geword en ‘n skerp kritikus van apartheid. Moontlik het hy besef dat sy goeie voornemens destyds misbruik word?


Sokrates se metode en Degenaar s’n


Degenaar is, soos ek dit sien, in 1954 geteiken as volgeling van Sokrates, en het vir dekades daarna bekend geword. Wat ek egter nou wil beweer, is dat Degenaar vanuit ‘n Sokratiese beginpunt ‘n ander, eiesoortige vorm van gesprek ontwikkel het, en mettertyd tot ‘n kuns verhef het; ‘n kuns wat hy oor die jare in so ‘n mate deel van sy daaglikse bestaan gemaak het, dat hy nie meer nodig gehad om dit van buite te beskou nie. Hoewel Degenaar se gesprek die Sokratiese gesprek as vertrekpunt en inspirasie geneem het, het hy dit tot so ‘n mate aangepas by sy omstandighede dat mens dit eintlik as ‘n nuwe kunsvorm moet beskou.


Miskien was hy nog altyd met Sokratiese gesprek besig, maar dan hoofsaaklik in die sin dat hy ‘n vorm van gesprek beoefen het wat sy oorsprong het in die uitbeelding van Sokrates, hoofsaaklik in die dialoë van Plato. Intussen het hy daardie vorm van gesprek ontwikkel en aangepas, en nooit daaraan gedink of hy vir homself die krediet daarvoor moes gee nie. As ons nog altyd by Degenaar wil leer, is dit tyd om die oorspronklikheid van sy gesprek raak te sien.


Dit sou eintlik vreemd wees as Degenaar maar bloot die voorbeeld van Sokrates gevolg het sonder om dit aan te pas by sy heel verskillende omstandighede. Sokrates het geleef in ‘n tyd toe sy stad Athene bekendgestaan het as die tuiste van die demokrasie, waar elke burger aktief deelgeneem het aan die regering van die stad. Die stad het haarself daarop geroem dat sy ‘n kulturele baken en leier vir die beskawings van Griekeland en die nabye Ooste, met besondere prestasies in die kuns, teater en filosofie. Dit was die leidende stad in die Griekse verset teen die inval van die magtige Persiese Ryk—die wêreldmoondheid van daardie tyd—wat onder Atheense leiding deur die Grieke verslaan is.


Sokrates was blykbaar slegs aan die einde van sy lewe ‘n leermeester vir ‘n jonger geslag Atheniërs, wat Plato ingesluit het. Hy was nooit, sovêr ons weet, in volgehoue gesprek met ‘n jonger geslag, of met toegewyde leerlinge van hom nie. Hy was omtrent altyd in gesprek met mense van sy eie ouderdom, dikwels meer bekend as denkers as hy self. (Die enigste uitsondering waaraan ek kan dink, is miskien Alcibiades, wat laat in Plato se Simposium verskyn; ons sien ook hoe versigtig en vol respek is Sokrates teenoor Protagoras, wat veel ouer as hom was.) Sokrates het dikwels die grootste redenaars van sy tyd—die sogenaamde sofiste; die term was toe glad nie neerhalend nie—aangevat.


In teenstelling hiermee was Degenaar ‘n leermeester vir veel jonger studente, wat deel was van ‘n relatief groot burokratiese instelling, waar gesprek as onderrigmetode nie besonder hoog op prys gestel is nie, en wat nie verwag het dat studente met hulle dosente moes verskil nie. As daar wel ‘n geskil tussen leermeester en student oor hulle vakgebied was, was dit altyd die dosent wat besluit het op die punt wat aan die student toegeken word. Sokrates was ‘n leermeester wat nooit ‘n punt aan enige van sy gespreksgenote moes toeken nie.


Degenaar self het uit sy pad gegaan om gesprek met sy studente te bevorder, en veral om diegene met ‘n verskillende standpunt aan te moedig om dit te stel. Maar sy basiese styl van gesprek is tot ‘n groot mate gevorm deur die ongelykheid tussen leermeester en student. Waar Sokrates nie gehuiwer het om die argumente van gedugte redenaars soos Thrasymachus (in Plato se Republiek) of Callicles (in Plato se Gorgias) te vernietig nie, het Degenaar alles in sy vermoë gedoen om studente aan te moedig om hulle standpunte te stel, en gesoek vir maniere om die daardie standpunt te slyp en ontwikkel.


Die vertrekpunt van die gesprek waarby Degenaar op Stellenbosch en elders betrokke was, was ook nie een waar hy kon uitgaan van ‘n standpunt van dat die samelewing of die staat ‘n onbetwiste bate of voorbeeld vir die bekende wêreld was nie. Inteendeel, apartheid Suid-Afrika is deur die sogenaamde beskaafde wêreld verag, insluitende die moondhede was tot kort tevore nog rassistiese empires bedryf het. Voorstanders van apartheid was dikwels bitter oor hoe hulle opregte pogings—soos hulle dit gesien het—deur die wêreld verag is.


Die gesprek waarby Degenaar betrokke was—of dit nou met studente of akademiese kollegas was—het dus gewoonlik nie gegaan oor die ideale staat of samelewing nie. In die konteks van die Suid-Afrikaanse politiek gedurende apartheid, was die ideale staat waarna gestreef word, dikwels beperk tot dit wat haalbaar was gegewe die ongelykhede en konflikte wat reeds bestaan het. Die beginpunt van maar eerder oor kwessies van hoe (en of) die skreiende onreg van apartheid versag of verwerp kon word, of selfs net hoe ‘n groter getal van die magshebbers oortuig kon word om daardie onreg te versag.


Daarmee wil ek nie sê dat Degenaar se gesprek tot die Suid-Afrikaanse politiek beperk was nie. Hy het intens belanggestel in veel gebiede van die menslike lewe. (Die inhoudsopgawe van Willie van der Merwe en Pieter Duvenage se Keur uit die denke van Johan Degenaar word verdeel in filosofie, religie, kuns en politiek. Dit is ‘n billike indeling, hoewel dit neig om sy werk as ensiklopedië voor te stel eerder as avontuur.[ix]) Maar in Suid-Afrika se apartheidsjare was politiek—en veral die politiek van geregtigheid—die een gebied wat nié op ‘n eerlike manier vermy of ontduik kon word nie, al wou die meerderheid Stellenbosse akademici dit probeer vermy.


Sokratiese gesprek en die vertrekpunt van Degenaar s’n


Om dialogiese strukture uit te wys, is altyd ‘n kunsmatige en beperkte oefening. Werklike menslike interaksie vind nie plaas volgens ‘n plan nie, behalwe miskien in advertensie-veldtogte of burokratiese reëls, verwyderd van die werklikheid. Ten spyte van daardie voorbehoud, om die teenstelling tussen hierdie twee vorms van dialektiese gesprek duidelik te maak, wil ek ‘n kort en ietwat abstrakte skets van Sokratiese dialektiek gee, waarmee Degenaar se gesprek dan vergelyk kan word.


Die basiese struktuur van Sokratiese dialektiek word duidelik uitgespel in Richard Robinson se Plato’s Earlier Dialectic (1938). Die dialektiese proses begin met ‘n vraag na definisie van ‘n omstrede term, wat gevolg word deur ‘n toetsing van daardie definisie deur vraagstelling, wat veral gerig is op uitsonderings wat nie by die definisie inpas nie. As dit blyk dat die definisie weerspreek word deur ‘n bepaalde teenvoorbeeld, dan moet ons die definisie aanpas en verskerp, totdat ons ‘n definisie gekry het wat probleem-geval wel kan insluit. As dit blyk dat belangrik gevalle van X nie onder die definisie gebring kan word nie, dan is die definisie onvoldoende en moet dit aangepas word.


Dit is ‘n effektiewe tegniek sowel om wollerige idees te verhelder as om filosofiese ondersoek te bevorder, maar hoofsaaklik in toestande waar daar ‘n mate van morele konsensus bestaan, soos vermoedelik die geval was onder manlike burgers van die Atheense polis. As ons saamstem dat geregtigheid nagestreef moet word, dan is ‘n definisie daarvan rigtinggewend. Maar die hele proses word met daardie vier stappe afgehandel: (i) identifiseer die betwiste term; (ii) verskaf ‘n definisie; (iii) kyk of die definisie weerlê kan word deur voorbeelde wat die definisie pas maar nie die betekenis van die betrokke term nie; (iv) indien nodig, hersien die definisie totdat dit die werk kan doen wat noodsaaklik daarvoor is.[x]


In die geval van Degenaar se dialektiek kan ons nie gebruik maak van gesaghebbende tekste, soos met Sokrates nie. Waarop ek hier staatmaak, is hoofsaaklik my feilbare geheue. Uit die aard van die saak is dit ‘n onvolledige skets, eerder as ‘n formula wat bloot toegepas kan word.


Degenaar se gesprek het dikwels sy beginpunt gehad nie soseer met skerp verskille onder studente nie, maar met ‘n mate van verwarring onder studente oor die Suid-Afrikaanse politieke werklikheid wat slegs gedeeltelik, indien enigsins, deur definisie verhelder kon word. Dikwels was wit studente bloot oningelig oor die lewens van hulle swart medeburgers. Die apartheid regering wou ook swartmense volgens wetgewing definieer as nie-burgers, of burgers van ‘n ander staat, wat nog in wording was. Moontlik het die wetgewing reeds bestaan, maar die tuislande wat daarmee gedefinieer is, was nog in wording en die burgers daarvan het in townships van die groot stede gewoon. Dit was ook onduidelik—selfs doelbewus onduidelik—of die apartheid definisies aan erkende begrippe van burgerskap voldoen nie. Die swart Suid-Afrikaners vir wie tuisland burgerskap beplan is, het dikwels geen verbinding met die bepaalde gebied gehad nie en geen wens om deel daarvan te word nie. Beleid t.o.v. ras het in ‘n wolk van skynheiligheid gedryf.


Definisie het dus ‘n rol gespeel in gesprek met Degenaar, maar ‘n aanvullende rol, binne ‘n gesprek wat nie met definisie begin het nie, en waar definisie dikwels voorlopig moes wees en inherent onstabiel was. Die vraag van Degenaar wat dikwels ‘n beginpunt vir gesprek verskaf het, was: Hoe is dit moontlik? Die vraag het nie gegaan oor betekenis nie, maar gewoonlik oor hoe ‘n spesifieke morele blindheid (of insig) volhou kon word.


Onderwerpe vir bespreking met Degenaar


As eerstejaarstudente in 1972, was ons gou daarvan bewus dat Degenaar ons opinies wou uitlok, soms oor idees of ontwikkelings wat hy in die lesing verduidelik het; maar soms oor nuus wat in die koerant gedek het. Die eerste keer dat ek betrokke was by ‘n gesprek met Degenaar, soos ek dit onthou, was nadat hy vir ons gevra het of enigiemand in die klas ‘n berig in Die Burger gesien het, wat vertel het dat die NG Kerk die regering versoek het om die stelsel van trekarbeid te hervorm op ‘n “meer menslike” manier uit te voer.


Soos ek dit onthou, het niemand daardie berig gelees nie, maar van die studente in die klas het ook nie verstaan waaroor dit gaan nie. Sommige het miskien nie geweet dat trekarbeid in Suid-Afrika bestaan nie; ander het gewonder hoe die opbreek van gesinne enigsins op ‘n “meer menslike” manier gedoen kon word. Mettertyd, soos ons meer bewus geword het van die Suid-Afrikaanse politieke bestel, het ons begin verstaan dat die hele Suid-Afrikaanse ekonomie, en veral die mynbou, van trekarbeid afhanklik was (soos wat vandag nog die geval is). Na die lesing wou een of twee studente verder met Degenaar daaroor praat, en hy het voorgestel dat ons die gesprek voortsit buite die klaskamer, in die binneplein van die Ou Hoofgebou.


‘n Tweede onderwerp van gesprek met Degenaar het na vore gekom, toe ‘n student wat deel was van die bespreking van trekarbeid vir Degenaar vertel het van die reaksie van sy koshuis-maats, toe hy sy nuwe insigte oor trekarbeid aan hulle oordra. Hulle het saamgestem dat die trekarbeid-stelsel onmenslik was. Maar hulle het gedink dat die enigste manier om dit te wysig was om steun daarvoor te wen binne die regerende Nasionale Party, en dat jy geen steun in die NP sou kry nie, as jy iets so radikaal soos die afskaffing van trekarbeid bepleit nie. Daarom was dit beter—eintlik meer menslik!—om te swyg oor die onregte van apartheid totdat jy steun binne die NP deur jou lojaliteit gewen het; dan sou dit baie makliker wees om hervorming teweeg te bring. Dit het gelei na ‘n bespreking na die klas van die beperkinge van die sogenaamde verligte denkrigting in die NP.


Soos ek dit onthou, was die opkoms van die Swart Bewussyn-beweging reeds in 1972 ‘n onderwerp waaroor ons Degenaar se leiding gevra het. In 1973 het Donald Woods van die Oos-Londense Daily Dispatch begin om gereeld oor sy gesprekke met Biko verslag te doen, wat ook in die Cape Times verskyn het, en die onderwerp het ook gereeld na vore gekom in hierdie besprekings met Degenaar. Ons het die opkoms van die Swartbewussyns-beweging met groot belangstelling gevolg, maar het geen manier gehad om ons daarmee te skaar nie—ten minste tot na die Soweto-opstand van 1976. Dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.


Om so ‘n lys onderwerpe te maak, is eintlik net ‘n beginpunt vir enige beskrywing van ons gesprek met Degenaar. Die waarde van die gesprek was elders, in die manier waarop hy ons in staat gestel het om vir onsself te dink, dikwels bloot deur om vrae te stel, wat ons aangemoedig het om ons gedagtes meer duidelik te formuleer. In my beskrywing van Degenaar se styl van gesprek, sal ek op die voorbeeld van trekarbeid fokus.


Gesprek met Degenaar


Degenaar se gesprek met studente het volgens my ‘n kenmerkende, maar tog buigbare, struktuur gehad. Ek twyfel of Degenaar self daarvan bewus was; daardie struktuur van gesprek was in ‘n sin die natuurlike resultaat van sy jarelange beoefening van gesprek (soos wat ‘n gedig ‘n struktuur het, eerder as ‘n bouplan; ons sou ook kon praat van ‘n repertoire of ‘n ritme). Maar wat daardie struktuur so effektief gemaak het, was hoe subtiel en presies hy hierdie repertoire aan die werk kon stel; ook sy merkwaardige tydsberekening, en sy vermoë om die rigting en pas van die argument te wissel; sy geestigheid en vrygewigheid in debat.


Tog dink ek dat mens wel—met daardie voorbehoude—‘n kenmerkende struktuur van sy gesprek kan beskryf. Ek wil daardie struktuur hier beskryf deur om kenmerkende reaksies van Degenaar uiteen te sit, wat die loop van die gesprek gelei het. Ek sal elkeen kortliks probeer verhelder met voorbeelde uit onderwerpe van ons gesprekke met hom. My bedoeling is nie om al te moontlike opsies te probeer dek nie, maar eerder om die onderliggende logika van die dialogiese proses te verhelder.


Soos ek reeds gesê het, was Degenaar se tipiese eerste reaksie, sodra die onderwerp van bespreking duidelike vorm aangeneem het, was dikwels die vraag: Hoe is dit moontlik? Dit is ‘n vraag wat by Kant sy filosofiese gewig ontleen; dit is ‘n vraag wat—sovêr ek weet—nooit deel van Sokrates se gesprek was nie. Die strekking van die vraag kon wissel vanaf heel konkrete werklikheid (hoe het iets gebeur) tot meer abstrakte ondersoek na die breë voorwaardes wat iets moontlik gemaak het. Maar die uitwerking van die vraag was gewoonlik om die rigting van die gesprek te skuif; byvoorbeeld om ons weg te neem van blote verontwaardiging of kritiek en in die rigting van analise van ‘n meer volledige konteks.


Hoe is dit moontlik, byvoorbeeld, vir die NG Kerk om die regering te vra om die trekarbeid stelsel “meer menslik” te maak? Watter stappe het hulle in gedagte? Hoe kan iets soos trekarbeid “menslik” gemaak word? Hoe sien hulle die trekarbeid stelsel? Hoe kan die kerk die huwelik as heilige instelling beskou, en nog altyd ‘n beleid ondersteun wat elke jaar nog meer huwelike en gesinne vernietig? Of is die kerk se versoek aan die regering bloot ‘n manier om hulself te mislei?


Stap vir stap, het Degenaar vir ons aangespoor om die gedagtegang agter die trekarbeid stelsel, of watter verskynsel ook al ter sprake was, duideliker te begryp. Terselfdertyd het hy geluister nie net na ons standpunte en sentimente nie, maar ewe skerp geluister om die begrippe wat ons gebruik vir ons te identifiseer. Só kon hy vir ons begin bewus maak van ‘n konseptuele apparaat waarvan ons meestal onbewus gebruik maak, soms op ‘n koherente en soms minder koherente wyse. Gereeld, in die loop van die gesprek, sou hy ons daarvan bewus maak met die vraag: Wat bedoel jy daarmee?


Hierdie tweede vraag is natuurlik een wat gereeld verskyn in Plato se weergawes van die gesprekke van Sokrates, en Degenaar het dit keer op keer gevra, maar altyd—so het dit gevoel—met ‘n konkrete bedoeling. Die vraag was nie ‘n struikelblok nie, maar ‘n manier om die gesprek te laat vorder, op ‘n manier wat ons nie sonder sy hulp sou kon doen nie. Hierdie vraag vereis dat ons met skerper fokus ons eie woorde moes weeg. Ons moes bewus word van die gewig wat ons op sentrale terme plaas, en of dit werklik deur die betrokke woorde gedra kon word.


Derdens, en soortgelyk aan Degenaar se vrae oor die betekenis (of bedoeling) van die ons woorde, was sy kommentaar oor die samehang van die algehele standpunt of argument wat in die loop van die argument wat mettertyd ontwikkel het, sonder dat ons daarvan bewus was. Soms sou hy uitroep, in reaksie op ‘n student se poging om die argument saam te vat of ‘n stap verder te neem: Dit is ‘n oulike skuif wat jy nou maak! Al was dit in reaksie op jou eie formulering, was ons gewoonlik nie bewus daarvan dat daardie formulering die argument verstewig het, of in ‘n nuwe dimensie gegee het nie, totdat Degenaar ons daarop gewys het. Sodoende het hy ons aangemoedig om die drade van die argument bymekaar te hou en die argument te konsolideer, om ‘n groter beeld te kry.


‘n Vierde reaksie op ons standpunte het die uitwerking gehad om vir ons ‘n wyer beeld van die probleem te gee: dikwels het Degenaar gereageer op ‘n bepaalde stelling deur om uit te roep: Daar lê ‘n hele wêreld daaragter! (Soms ook as vraag gestel word: Lê daar nie ‘n hele wêreld daaragter nie?) So is ons aangespoor om ‘n greep te kry op die groter ervaringswêreld waarbinne ‘n bepaalde standpunt gehuldig kan word, of as voor-die-handliggend beskou kan word.


Die idee dat ons met ons woorde besig is om ‘n wêreld te begryp, en terselfdertyd te sien hoe daardie wêreld anders sou kon wees, was ‘n uitvloeisel van Degenaar se vorming deur denkrigtings soos die eksistensialisme en die fenomenologie. Sy idee van ‘n bepaalde leefwêreld wat met woorde geskep word, het ook ‘n verantwoordelikheid op ons geplaas om ons eie woorde deeglik te kies. Ons moes ook die wêreld van ons teenstanders as ‘n samehangende geheel probeer verstaan. Soms het dit deel van die gesprek gevorm, en soms het ons daardie opdrag met ons weggeneem.


Ek sou daar kon afsluit met my beskrywing van Degenaar se styl van gesprek, in die sin dat hierdie beskrywing ‘n beeld gee van ‘n koherente styl van bespreking, en miskien ook van Degenaar se vermoë om daardeur die lewens van sy studente te verander. Maar die uitwerking van hierdie gesprek met Degenaar was meer as die vrae en antwoorde wat daaruit gekom het.


Degenaar se afskeidswoorde na so ‘n gesprek was dikwels: “Hierdie is belangrike vrae wat julle vra.” Dit was ‘n tipe aanmoediging om met die proses voort te gaan, en miskien ook ‘n manier om ons te laat dink dat ons self verantwoordelik vir die hele proses van ondersoek was. Maar dit het ook ‘n ander strekking gehad, en vir ons gedwing om ‘n laaste vraag ons onsself te vra; ‘n vraag wat ek nooit gehoor dat iemand in soveel woorde formuleer nie: Kan jy gestand doen aan die vrae wat jy nou gevra het? Dit wil sê: Kan jy so leef dat hierdie ideale van gesprek eerlik en openlik gehandhaaf word? Dit was vrae wat ons aan onsself moes vra, soms met ‘n rilling wat deur mens se lyf sou gaan.


Solidariteit as voorwaarde van gesprek


Daardie laaste vraag wat ons studente aan onsself moes vra, soos die gesprek met Degenaar ten einde geloop het, bring ons terug na die vergelyking wat dikwels tussen Degenaar en Sokrates gemaak word. Ons kon nie daardie ervaring deurgaan nie, sonder om bewus te wees dat dit ‘n soort plig geskep het om daarvolgens te leef; om te leef volgens die Sokratiese leuse om die argument te volg, ongeag die eindpunt waarby dit jou uitbring.


Vir Sokrates was dit die gifbeker, wat hy blymoedig aanvaar het nadat sy Atheense medeburgers hom ter dood veroordeel het. Vir Degenaar was dit die moontlikheid in die 1950-jare dat hy sy werk sou verloor, en later die vyandigheid van die Stellenbosse owerhede en ‘n sekere afstandigheid van kollegas wat nie as sy bondgenote beskou wou word nie; ‘n “straf” wat hy blykbaar sonder wrewel, selfs blymoedig, verduur het.


Veel belangriker was Degenaar se solidariteit met sy studente, veral met diegene wat aktief was in die stryd teen apartheid, in die jare wat Stellenbosch se owerhede nog aktief met die apartheid-orde geïdentifiseer het. Soos ook met die Sokratiese metode, as dit bloot tot die klaskamer beperk word, en geen vermoë het om jou lewe te verander nie, is die dialektiese metode ‘n tipe speelding.


Degenaar se morele erns het ook geblyk uit sy bystand aan die aktiviste-kultuur wat in die Departement Politieke Filosofie totstandgekom het, voor die samesmelting van die twee filosofie-departemente aan die einde van 1986. In die 1980-jare, het Stellenbosch vir ‘n aantal jare deel van ‘n groter radikale politieke kultuur in Suid-Afrika geword wat die omverwerping van die apartheid-staat nagestreef het, en het ook ‘n spesifiek filosofiese bydrae daartoe gebring.


Apartheid het ‘n spoedige en nodige dood gesterf. Die radikale politieke kultuur van die 1980-jare het gesterf in die onderhandelde skikking van 1993-94, wat gelei het tot ‘n nog meer ongelyke samelewing as sy apartheid-voorganger, wat reeds die mees ongelyke samelewing in die wêreld was. Elke dag bring nuwe onderhandelings en nuwe skikkings wat gewoonlik niks werklik kan verander nie. Waarmee ons nou leef is korrupsie en hongersnood, selfsugtigheid en wanhoop, klimaat en ekologiese krisisse wat nader kom. Die universiteite streef uitnemendheid na, op soek na plekke in wêreld-ranglyste wat—veral in die geesteswetenskappe— al hoe minder in die werklike wêreld beteken.


Hoe word nuwe praktyke van solidariteit vir so ‘n onsekere toekoms gebou? Die beskeie erfenis van Johan Degenaar is hiervoor meer noodsaaklik as ooit.


 

[i] Pieter Duvenage, Afrikaanse Filosofie: Perspektiewe en Dialoë (Bloemfontein: Sun Press, 2016), p. 81. [ii] Oosthuizen was later professor in filosofie by Rhodes Universiteit en ‘n leidende figuur in die ontwikkeling van analitiese filosofie in Suid-Afrika. Oglethorpe was ‘n NGK sendeling in Noord-Rhodesië en later raadgewer van Kenneth Kaunda, die eerste president van Zambië. [iii] Vgl. Andrew Nash, The Dialectical Tradition in South Africa (New York: Routledge, 2009), pp. 79-80. [iv] Vincent Brümmer, “De hardnekkigheid van de onbegrip,” in André du Toit, ed., In Gesprek: Opstelle vir Johan Degenaar (Stellenbosch: Die Suid-Afrikaan, 1986), p. 40. [v] Willie Esterhuyse, “Dosent par excellence!,” in André du Toit, In Gesprek: Opstelle vir Johan Degenaar (Stellenbosch: Die Suid-Afrikaan, 1986), p. 116. [vi] Vgl. Anton van Niekerk, “A department under siege: How Philosophy at Stellenbosch was split in order to survive,” Stellenbosch Theological Journal 3:1 (2017), pp. 451-73, which draws on the official archives of the university. For my discussion of van Niekerk’s account, cf. https://www.dialectic.co.za/post/degenaar-part-four-what-remains [vii] J.J. Degenaar, Die Sterflikheid van die Siel (Johannesburg: Simondium Uitgewers, 1963), p. 75. [viii] J.J. Degenaar, “’n Teologie van die Dans,” Herdenkingsblad van die Stellenbosch Admissiebond 1933-1954 (hierna Herdenkingsblad), p. 31. [ix] W.L. van der Merwe en P. Duvenage, ed., Tweede Refleksie: ‘n Keur uit die Denke van Johan Degenaar (Stellenbosch: Sun Press, 2008). Die titel van hierdie opstel (Denke wat kans dans) was Degenaar se eie voorgestelde titel vir van der Merwe en Duvenage se oorsig van sy denke. [x] Vgl. ook Gregory Vlastos, Socrates: Ironist and Moral Philosopher (1991).

1 comment

1 komentarz


henri.laurie
06 lip 2023

Vir Degenaar-begeesterdes (die uwe insluitend) 'n pragtige artikel. Maar ek is glad nie seker hoe die "beskeie erfenis van Johan Degenaar" benut kan word om "nuwe praktyke van solidariteit vir so ‘n onsekere toekoms" te bou nie. Vir my was hy uniek, onnabootsbaar, en ek is hoegenaamd nie in staat om soos hy mense te lei tot dieper denke nie.


En dan is ek ook glad nie meer so seker dat dieper denke tot beter praktyk lei nie.


Aan die ander kant, watter erfenis het ons beter as Degenaar?

Polub
bottom of page