top of page

Stellenbosse Taalbeleid

Die Oortjies van die Seekoei


Ter gedagtenis van Ampie Coetzee, 1939-2020


Die seekoei en die taalbeleid


Waarna ons ookal kyk, sien ons met die eerste oogopslag gewoonlik minder as die hele prentjie. Die oortjies van die seekoei lyk vir ons soos net nog ‘n deel van die riviertoneel. Maar as die seekoei eers uit die water klim, is dit ‘n ander saak.[1]


Met enige beskouing oor taalbeleid in Suid-Afrika vandag, is dit soos wanneer ons die oortjies van die seekoei sien: Dit is belangrik om vroegtydig so volledig moontlik ‘n beeld van die situasie te vorm, insluitende dit wat nie eksplisiet gemaak word nie. As jy met ‘n gedeeltelike beeld probeer klaarkom, sal jy onkant gevang word. Met taalbeleid, sal jy dit moeilik vind om te verstaan waarom mense met soveel mag en aansien—kanseliers en vise-kanseliers, raadslede en professore, mense wat jy vertrou het—sonder blik of bloos hulle ondernemings kan verbreek of verdraai of vergeet.


Die groter prentjie wat nodig is om die ontwikkeling van Stellenbosse taalbeleid te begryp, het verskillende aspekte. Een van die heel belangrikste het te doen met ‘n idee van akademiese uitnemendheid wat eers relatief onlangs by universiteite posgevat het. Hierdie idee is die stuk van die legkaart wat ek hier wil probeer invul.


Hierdie idee van uitnemendheid het sy oorsprong in die Amerikaanse universiteitswese aan die einde van die twintigste eeu. Dit was die manier waarop universiteite in die ryk Westerse lande die triomf van die neoliberalisme na die ineenstorting van die Sowjet Unie gevier het, of universiteite dit wou vier of nie. Nadat kapitalisme sy veronderstelde globale teenstander uitgeskakel het, was dit tyd om die universiteitswese in die beeld van neoliberale kapitalisme te laat herskep.


Die idee van uitnemendheid het kort daarna sy verskyning in Suid-Afrika gemaak, en het deel geword van beplanning van die post-apartheid hoër onderwys stelsel, sonder dat die beplanners dit altyd goed verstaan het. Suid-Afrika se oorgang van apartheid na demokrasie het saamgeval met ‘n eiesoortige oorgang van ‘n hoogs ongelyke welsynstaat na formele gelykheid en groeiende materiële ongelykheid.


Vandag word hierdie idee van uitnemendheid dikwels as vanselfsprekend aangebied, asof dit van die begin af deel van die akademiese lewe was en vanself daarby inpas. Dit word aangebied asof middelmatigheid die enigste alternatief tot uitnemendheid is. Dit is in werklikheid ‘n stelsel van bestuur wat die akademiese lewe in die afgelope dekades wesenlik verander en verdraai het, sonder dat ons dit besef.


Hierdie ideologie van uitnemendheid het in die Engelstalige wêreld begin, waar die neoliberalisme eerste en sterkste gevestig is, en dit het ook daar verder as elders gevorder. Akademiese voertaal is nie opsigself ‘n teiken van uitnemendheid (of neoliberalisme) nie. Maar omdat die stelsel van uitnemendheid grootskaalse mededinging beklemtoon (ook in kontekste waar mededinging ‘n slegte opsie is, of ‘n misverstand), is die ideale skaal van hierdie vorm van akademiese mededinging globaal, al weet jy nie altyd met watter globale teenstanders jy meeding nie.


Hierdie globale skaal van mededinging bevoordeel wêreldtale soos Engels (bowenal Engels; tale soos Chinees, Spaans, Duits, Frans, Russies en Japanees het genoeg lesers om in baie opsigte selfstandig te wees, sonder dat hulle daardeur afgesonder word). Omdat Engels die enigste wêreldtaal is wat in Suid-Afrika gevestig is, is Engelstaligheid ‘n sterk wapen vir die ideologie van uitnemendheid by ons universiteite. Terseldertyd word hierdie idee van uitnemendheid versterk word deur die veronderstelling dat die waarde van die universiteit gemeet moet word aan die lonende werksgeleenthede wat dit vir jongmense skep en dat elkeen met sy of haar eie individuele selfbevordering besig is.


Ek twyfel of Stellenbosse beleidmakers ooit in soveel woorde verklaar het dat hulle van Afrikaans as akademiese taal ontslae wil raak met die doel om uitnemendheid te bevorder. Dit is moontlik dat hulle nooit eers daaraan gedink het nie, en selfs dat hulle nie heeltemal begryp dat hulle op pad is om Afrikaans uit die akademie te verwyder. Maar ek dink ook nie dat Stellenbosse taalbeleid op enige ander manier werklik verstaan kan word nie.


Ek twyfel ook of beleidmakers op Stellenbosch en elders besef dat die bevordering van sogenaamde uitnemendheid in feite tot die ondermyning van egte onderwys en navorsing lei. Hulle volg net die voorbeeld van ander universiteite, hier en elders, ook van dié wat vooraan die wêreld se ranglyste staan. Die enigste verskil in hierdie opsig onder Suid-Afrikaanse universiteite is dat sommige te swak is om hierdie ideaal van uitnemendheid na te streef.


Stellenbosch loof sy eie uitnemendheid


As jy wil sien hoe Stellenbosch die kwessie van uitnemendheid beskou, kliek op die eerste hofie op die tuis-bladsy van die universiteit se webwerf: http://www.sun.ac.za/afrikaans/Pages/Why-SU.aspx.


Die antwoord op die vraag, “Wie is ons?,” is dat Stellenbosch ‘n voorbok van uitnemendheid is, en hierdie stelling ook met ‘n hele aantal sinonieme kan oordra.


Selfs die mooi ligging en voorkoms van die dorp Stellenbosch word daarvoor aangewend: “Verskillende argitektonese eras simboliseer die akademiese onderbou en vestiging van ‘n uitnemende instelling.” Maar uitnemendheid is nie hier net ‘n metafoor nie: “Die US is een van Suid-Afrika se beste tersiêre instellings gemeet aan navorsingsuitsette, studente-slaagsyfers en geëvalueerde wetenskaplikes, en geniet internasionaal erkenning as ‘n uitnemende akademiese instelling.” Dan, “volgens die Times Higher Education World University Rankings is die US een van die beste 300 universiteite in die wêreld”; “die US tel nou onder die wêreld se elite instellings in 10 van die 36 vakke soos wat dit in die QS World University Rankings by Subject vir 2015 verskyn het,” ensovoorts. Daar kom nog talle sinonieme daarby: wêreldklas, elite, leier, e.d.m.


Maar kan jy uit hierdie reëls aflei of hierdie prestasies werklik so indrukwekkend is? Dit lyk meer na verkoopstegniek eerder as duidelike inligting. Dit skep die indruk van groot prestasie sonder dat die leser dit enigsins presies kan oordeel. Wat bowenal bewys word, is Stellenbosch se gehegtheid aan die ranglyste. Soos ons sal sien, was verkope nog altyd die bedoeling van die ranglyste.


Die ander kant van die munt van uitnemendheid is sigbaar in die volgende afdeling van Stellenbosch se tuisblad, wat handel oor die geskiedenis van die universiteit. Dit bestaan meestal uit fotos en kort beskrywings van mense, geboue en gebeure soos aanstellings van ‘n nuwe rektor of kanselier, besoeke deur hooggeplaaste mense, insluitende Margaret Thatcher en Nelson Mandela; hier en daar ‘n jooloptog of ‘n atletiek-byeenkoms.


Die bedoeling is seker om ‘n toeganklike beeld van die universiteit te gee, maar die resultaat is ‘n universiteit wat hoofsaaklik besig is om sy eie beeld te poets; ‘n onsamehangende twitter-feed wat vir een-en-‘n-halwe eeu aanhou. Vir die uitnemende universiteit is die geskiedenis ‘n soort versiering. Maar historiese kortsigtigheid, soos ander maniere van slim-wees, vang sy eie baas.


Waar kom die ranglyste vandaan?


Die stelsel van uitnemendheid is ‘n relatief onlangse ontwikkeling. Dit is effens jonger as die ranglyste waarop dit staatmaak. Maar waar kom die ranglyste vandaan?


Die verhaal begin met die samesmelting van twee nuusblaaie in 1948 om die US News and World Report tot stand te bring. Hierdie tydskrif was soortgelyk aan die twee leidende weeklikse nuusblaaie in die Verenigde State, Time en Newsweek, maar minder analities, en meer gerig op allesdaagse sake, insluitende resensies van verbruikersprodukte: yskaste, haardroërs, grassnyers, en ander verbruikersitems wat destyds nog ‘n skyn van nuwigheid gehad het. ‘n Toeganklike manier om hierdie soort joernalistiek te bedryf, was om die bekendste van hierdie items in ‘n ranglys uiteen te sit. Hierdie ranglys-tegniek gee ook vir vervaardigers van hierdie produkte die motivering om gedetaileerde inligting aan joernaliste te verskaf.


In 1983 het die nuusblad ook begin met ranglyste vir Amerikaanse kolleges en universiteite, met rofweg dieselfde beginsel van waarde vir geld in gedagte. Hoër onderwys het destyds vinnig uitgebrei, en US News and World Report se jaarlikse ranglys van kolleges en universiteite was ‘n groot kommersiële sukses. Die joernaliste wat voorheen fietse en visstokke beoordeel het, het begin om universiteite te evalueer en op ‘n ranglys te plaas. Die bylaag wat jaarliks met hierdie ranglyste verskyn het, kort voor die tyd dat aansoeke ingelewer moes word vir die komende jaar se toelating, het geweldige verkope gehad.


‘n Universiteit is mmer kompleks en moeiliker om te beoordeel as ‘n fiets of ‘n visstok. Maar as jy hoofsaaklik belangstel in die ervaring van die koper kan jy rofweg dieselfde tegniek by albei toepas.


In 1990 het US News and World Report besluit om ranglyste vir nagraadse programme en beroepskole (regte, medies, argitektuur, ens.) by te voeg. Dit was ‘n voor-die-handliggemnde manier om op hulle sukses voort te bou. Maar hulle sukses het binnekort vir hulle begin inhaal, soos ander tot hierdie nuwe mark toegetree het; eers koerante en daarna nuwe agentskappe wat hulle ranglyste op die Internet gepubliseer het. Teen daardie tyd, het sommige universiteite en kolleges reeds gekla oor US News and World Report se slordige werk, en van hierdie instellings het hulle samewerking onttrek. (US News and World Report se reaksie hierop was om universiteite wat nie met hulle wou saamwerk nie, nog altyd by hul ranglyste in te sluit, maar laer in die ranglys as voorheen te plaas.) Al hoe meer het tot hierdie nuwe mark toegetree, juis op ‘n tyd dat mededinging en bemarking belangriker as ooit tevore geword het.


As jy vandag op Wikipedia soek, sal jy ‘n lys kry van meer as twintig agentskappe wat globale ranglyste aanbied, met QS (Quacquirelli Symonds), THE (Times Higher Education) en World Academic Rankings (oftewel Shanghai) in die voorste plekke. Daar is ook ranglyste vir bepaalde streke, bv. Asië en Suid-Amerika. Die ranglyste verskil van mekaar, maar die voorste universiteite is gewoonlik ook die rykste.


Om my uiteensetting meer toeganklik te maak, het ek hier gepraat van ranglyste wat universiteite met mekaar vergelyk, eerder as departemente, vaktydskrifte en akademici. Maarhierdie ranglyste word elke dag meer, asook die druk om daarby ingesluit te word. Kursusse word by universiteite aangebied om vir akademici te leer hoe om hulle prestasies te laat uitblink; dit wil sê, om die skyn van geleerdheid te kultiveer, eerder as geleerdheid self. Die hele karakter van die universiteitswese word in die proses verander. Of die verandering ook verbetering is, is ‘n ander vraag. Soms lei dit net tot meer gevorderde verneukery.


Verneukery word die pad na uitnemendheid


Uitnemendheid word gemeet deur die data wat verskaf word deur die betrokke universiteit of navorser. Hierdie data kan egter manipuleer word om ‘n valse beeld te skep, wat bedoel is om ‘n hoër plek op die ranglystete verseker. Op sy beurt, word hierdie manipulasie deel van ‘n groter akademiese kultuur, wat alles deursyfer vanaf die kanselier tot by die naïfste eerstejaar student.


Soms sal die druk om dieranglyste te bestyg, tot suiwer bedrog lei. Maar daar is volop geleenthede vir akademici en universiteite om ‘n valse beeld te skep sonder om die reëls te oortree.


Volgens my waarneming, is mense wat ‘n lewe in die akademie uitsoek selde van nature oneerlik in hulle werk. Sommige het wel groter sekerheid oor waarom hulle in ‘n bepaalde studieveld wil werk en wat hulle wil vermag, en ander meer geneig om aan to pas by heersende tendense. Sonder dat hulle doelbewus oneerlik is, kan hulle integriteit makliker ondermyn word.


Ek noem hier slegs ‘n klein aantal voorbeelde van tegnieke waarmee universiteite kan sorg dat individuele selfbevordering al hoe meer voorrang bo integriteit geniet, beginnende met die mees voor-die-handliggende. Sulke tegnieke hoef nie in soveel woorde oorgedra te word nie, en almal sal nie ewe veel daardeur beinvloed word nie. Maar dit het ‘n kumulatiewe uitwerking op die kultuur van die universiteit wat mettertyd as druk aangevoel word, miskien veral deur jonger en nuut aangestelde akademici.


Eerstens, word dosente aangemoedig om soveel moontlik in geakkrediteerde vaktydskrifte te publiseer. Die kriteria vir bevestiging van nuut-aangestelde dosente stel dit voorop.


Dit beteken nie dat hulle eksplisiet afgeraai word om nuwe kursusse te ontwerp en nuwe studie-materiaal te ontwikkel nie. Maar die aard van hierdie aktiwiteite is sodanig dat publikasies maklik getel kan word, asook die bydrae wat dit maak tot die universiteit se plek op die ranglyste. Die moeite wat die nuut-aangestelde dosent doen om ‘n nuwe kursus saam te stel wat haar studente in staat stel om die sentrale vraagstukke van hulle tyd, plek en vakgebied te verstaan, kan nie ewe maklik gemeet word nie, en word daarom nie opgemerk nie. In ‘n universiteit wat uitnemend wil wees, sal dit waarskynlik ook nie ewe veel waardeer word nie, indien dit wel opgemerk word.


Maar dit is slegs die begin. Omdat die stelsel van uitnemendheid mededingend is, kan mens nooit seker wees dat een gepubliseerde artikel binne ‘n spesifieke tydperk artikel genoeg sal wees nie. As jy onder druk is om ‘n tweede artikel te publiseer, is dit makliker om gebruik te maak van materiaal wat vir jou eerste publikasie gebruik is, in gewysigde vorm. En wie weet vir seker of twee artikels genoeg sal wees?


As jy werklik desperaat is, is daar altyd die opsie van fop-vaktydskrifte wat elke e-pos adres toesnou met uitnodigings om by hulle te publiseer (soms daarby sommer ‘n uitnodiging om hoofredakteur te word), elke voorlegging onmiddellik aanvaar, en eers daarna heftige fooie vra. Daar is universiteite wat tevrede is met die hoogklinkende titels van sulke tydskrifte, en akademici wat bevorder word op grond van hierdie bedrogspul. ‘n Bekende geval het in 2016 voorgekom toe die DA parlementslid en afgetrede professor Belinda Bozzoli uitgevind het dat die publikasies van die SAUK voorsitter, ‘n professor by UNISA, meestal in hierdie fop-kategorie geval het. Vgl: https://www.politicsweb.co.za/opinion/how-did-mbulaheni-maguvhe-become-a-unisa-professor.


Tweedens, in ‘n konteks waar die aantal sitasies van ‘n akademiese artikel getel word om die skrywer se “impak-faktor” te bereken, is daar nou ‘n gebruik waarvolgens akademici in dieselfde studieveld ooreenkom om mekaar se werk aan te haal in hul eie werk, in ruil vir aanhaling of sitasie deur ander lede van die betrokke sitasie-sindikaat. (Die Engelse term is citation circle.) Die verband van die sitasie met die artikel waarin dit gemaak word, hoef nie duidelik te wees nie, of selfs werklik. Op hierdie manier word elkeen se erkenning binne die bepaalde veld opgestoot word. Diegene wat nie by so ‘n sindikaat aansluit nie, sal gou agter raak in die skalla van uitnemendheid.


Sommige erkende vaktydskrifte het ook die praktyk begin om sitasie van ‘n sekere hoeveelheid artikels uit daardie spesifieke tydskrif te vereis as voorwaarde vir publikasie. Weereens is die gedagte dat almal daarby baat deur om die aansien van die tydskrif op te stoot waarin hulle eie artikel gepubliseer word. Die vereiste van die getal sitasies word eers na aanvaarding oorgedra. As die gevestigde tydskrifte hierdie praktyk moet volg, is dit ‘n aanduiding van hoe diep loop dié soort verneukery.


Derdens, is daar maniere waarop personeelsake manipuleer kan word om die betrokke universiteit se plek op die ranglyste te verbeter. Een so ‘n tegniek word beskryf in Mark Edmundsen se boek Why Teach? In Defense of a Real Education (2013), wat veral klem lê op die vernietigende uitwerking wat die kultuur van uitnemendheid het op studente wat elke insig as ‘n klein transaksie beskou, en eers die waarde van die insig moet reken sodat hulle kan besluit hoeveel aandag dit werd is.


Edmundsen se beskrywing van hierdie proses is subtiel en dikwels afhanklik van fyn waarneming van reaksies op literêre tekste. Maar ek was verras deur die krasse tegnieke wat ‘n vooraanstaande universiteit gebruik, ten koste van tydelike en deeltydse akademiese personeel, om hulle plek op die ranglyste te verbeter.


Dit blyk uit sy beskrywing dat ‘n universiteit se plek op die ranglyste ook afhang van die verhouding tussen die getal permanent-aangestelde akademiese personeel en die getal wat kort-termyn kontrakte het; hoe meer permanent-aangestelde professore, hoe meer uitnemend is die universiteit. Maar hierdie professore is duurder, en hul duurder salarisse en byvoordele sou elders gebruik kon word om uitnemendheid op ander maniere te bevorder. Die oplossing waarmee die adminstrasie hierdie konundrum oorkom, is dan om tydelike personeel aan te stel met inwerking vanaf die dag nadat die verslag aan die ranglys-agentskappe ingedien word. Die ware verhouding tussen vaste en tydelike personeel word gegee, hoewel dit moontlik net op daardie een, enkele dag waar is. Die jongste en kwesbaarste personeel moet wag vir hulle salarisse.


Verdere tegnieke sou bygevoeg kon word. Maar die leser sal teen hierdie tyd die patroon erken. Die uitwerking daarvan kan ook oneindig uitbrei, want hierdie veelvoudige misbruike is ingebou, en dit is onmoontlik om hulle konsekwent te kontroleer, tensy ‘n parallele akademie totstandgebring word, om die hele inhoud van die wêreld se vaktydskrifte na te gaan, assok aanstellingsprosedures e.d.m. En wat maak jy as hierdie parallele akademie ook met nog ‘n laag verneukery begin?


Een laaste verneukery moet genoem word, waarmee die universiteite hoofsaaklik hulself verneuk: die reuse-winste wat akademiese uitgewers maak deur om die werk van akademici te publiseer. Akademici skryf die artikels, redigeer die tydskrifte, en universiteite betaal groot bedrae om toegang tot hul die werk in dieselfde tydskrifte te kry. Die voorste uitgewers, veral Elsevier en Taylor & Francis, maak ongekende winste daaruit: https://www.theguardian.com/science/2017/jun/27/profitable-business-scientific-publishing-bad-for-science. Is dit ‘n geval van akademiese neoliberalisme wat net gewoonte geword het?


Ranglyste is grootliks ‘n weerspieëling van die reputasie van verskillende instellings, en reputasie is nie altyd op ‘n vaste fondament gebou nie. Malcolm Gladwell vertel van die hoofregter van die Michigan-deelstaat wat ‘n lys van vooraanstaande regsfakulteite aan ‘n honderd van sy mede-regsgeleerdes gestuur het, en elkeen gevra om hulle ranglys van die beste tien regsfakulteite in die Verenigde State op te stel. Toe die honderd antwoorde ingekom het, was Penn State University op nommer vyf. Maar Penn State het op daardie stadium nog nooit ‘n regsfakulteit gehad nie! Reputasie kan ook ‘n hersenskim wees.


Hiermee wil ek nie sê dat elke akademikus—of elke uitnemende akademikus, of selfs die meeste van hulle—van hierdie tegnieke gebruik maak nie. Ek is seker daar is heelwat wat uitstaande werk doen, wat die hoogste standaarde van eerlikheid handhaaf. Maar ek meen hulle sal al hoe minder word, soos die kultuur van uitnemendheid in intensiteit toeneem. As daardie kultuur lank genoeg aanhou, sal dit uiteindelik vir die verwydering van eerlike akademiese werk sorg.


Die ideologie van uitnemendheid


My indruk is dat die Afrikaanse woord uitnemendheid nog nie heeltemal aanvaarde of inheemse gebruik is nie. Dit bly ‘n vertaling van die Engelse woord excellence, met ‘n klank van sowel die advertensiewese as die burokrasie in albei tale. In die hedendaagse akademiese konteks, is dit myns insiens ‘n inherent oneerlike term.


Uitnemendheid is dit waarmee jy kan wegkom. Maar die strewe na uitnemendheid het werklike kenmerke, en hulle lei meestal tot beskadiging van die intellektuele lewe. Ek wil drie algemene kenmerke daarvan noem, en dan ‘n vierde wat in lande soos Suid-Afrika van toepassing sal wees.


Eerstens, word akademiese prestasie hoofsaaklik in kwantitiewe terme beskou, soos hierdie prestasie deur burokratiese prosedures gemeet word. Dit vereis nie dat kollegas mekaar se werk lees en debateer, of self daarvan weet nie, of dat hulle hulself as deel van ‘n gesamentlike strewe sien nie. Dit vereis net dat hulle almal dieselfde vorm elke jaar moet invul, en daarvolgens evalueer moet word.


Tweedens, is uitnemendheid verbonde aan ‘n eties-neutrale beskouing van die akademiese lewe. Het ‘n deurbraak in die behandeling van longkanker groter waarde as ‘n tegniek om sigarette te verkoop? Jy kan die vraag beantwoord deur publikasies te tel, hoe dikwels hulle aangehaal of siteer word, hoeveel geld vir die navorsing geskenk is, en dies meer. Die kriteria vir uitnemendheid moet op burokratiese wyse kontroleer kan word, sonder dat dit burokraat self enige kennis van die studieveld het.


Derdens, is uitnemendheid ‘n mededingende stelsel van individuele prestasie en beloning, wat akademiese gemeenskap ignoreer of selfs ontmoedig. Instellings en individue het nie belang in die prestasie van hul kollegas of hul bure nie. Al is hulle kollegas ook vriende of familie, moet hulle in hierdie konteks as mededingers beskou word, tensy hulle bv. deel is van dieselfde navorsingspan. Belangstelling in mekaar se werk en uitruil van idees kan al hoe makliker as ‘n vorm van diefstal beskou en gevrees word.


In die Suid-Afrikaanse konteks, verskaf uitnemendheid ook ‘n meganisme vir ‘n tipe kolonisering van die intellektuele lewe. Dit vereis dat Suid-Afrikaanse akademici moet meeding vir aansien, of die skyn daarvan, in die lande met die grootste en rykste akademiese stelsels, byvoorbeeld deur publikasie in Amerikaanse en Britse vaktydskrifte, of bywoning van oorsese konferensies. Globale perspektiewe is belangrik, maar wat hierdeur aangemoedig word is gewoonlik blote navolging van globale mag en rykdom.


Het Stellenbosch ‘n alternatief gehad? Het hulle dit nou nog?


Sou enige van hierdie skelmstreke (en nog veel ander) nodig wees, as dit nie was vir die hedendaagse kultuur van uitnemendheid nie? Om hierdie vraag om te keer: Is daar werklik ‘n gevaar dat die akademiese lewe in chaos sal ontaard, sonder die geweldige apparaat van toesig en evaluasie wat in die laaste paar dekades toegeneem het, aam met die eise van uitnemendheid?


Hierdie vrae is nie spesifiek of alleenlik op Stellenbosch van toepassing nie. Maar dit het wel spesifieke toepassing op Stellenbosch, insoverre dit vir Stellenbosch moontlik was om ‘n Afrikaanse universiteit te bly, en in ‘n mindere of meerdere mate buite die globale ideologie van uitnemendheid te bly.


Die Gerwel- verslag van Januarie 2002 het aanbeveel dat Stellenbosch ‘n Afrikaans-medium universiteit moes bly (saam met die Potchefstroom kampus van die Universiteit van die Noord-Wes) en die regering het die hierdie aanbevelings in November 2002 goedgekeur, amper twintig jaar terug. In daardie konteks, kon Stellenbosch ‘n alternatiewe pad gevolg het.


Myns insiens was dit wel onmoontlik vir Stellenbosch om in sy destydse gedaante Afrikaans te bly; dit wil sê, as spog-universiteit vir hoofsaaklik wit Afrikaners, hoofsaaklik uit relatief ryk families, met sport-spanne en ander fasiliteite wat ewe spoggerig is: rofweg, die Universiteit van Stellenbosch soos ek dit as eerstejaar-student in 1972 ervaar het.


As Stellenbosch werklik daarin belanggestel het om Afrikaans as akademiese taal te handhaaf of bevorder, sou die universiteit prioriteit gegee het aan ‘n uitvoerige en openbare gesprek van hoe dit moontlik gemaak kon word. Hulle versuim om dit te doen, word ‘n dekmantel waaronder hulle kan aandag dat daar geen sulke opsies bestaan nie.


Geen individu kan op haar eie daardie leemte volmaak nie. Dit is ook moeilik om enige individu vir hulle optrede te verkwalik waar die gebrek aan gesamentlike gesprek hulle dwing om hul eie besluite te maak. Ten spyte van hierdie voorbehoude, sal ek ‘n paar moontlike riglyne uiteensit, al is dit net om aan te toon dat daar íets is om te bespreek.


Om ‘n Afrikaanse universiteit te bly, sou dit nodig wees om swart en kleurlingstudente op groot skaal te werf en toe te laat, wat óf Afrikaanssprekend is óf bereid is om Afrikaans te leer, en dan grootskaalse bronne aan te wend, sowel om armer studente te subisidieer en om nuwe studente Afrikaans te leer. (Daar was nog altyd wit Engelssprekende studente op Stellenbosch, wat in mindere of meerdere mate Afrikaans bemeester het.) Dit sou veral nodig wees om swart en kleurling studente te werf uit die plattelandse gebiede van die Noord- en Wes-Kaap: dit wil sê, uit die bevolkingsgroepe met die minste toegang tot hoër onderwys in Suid-Afrika vandag. Om dit te doen, sou dit waarskynlik nodig wees vir die universiteit om nuwe skole in daardie gebiede te bou en miskien self te bestuur.


As dit gebeur het, of sou nog gebeur, sou die fokus en struktuur van die universiteit ook moes verander om daarby aan te pas. Sommige veranderinge is voorspelbaar: meer voorgraadse studente en minder nagraadse studente, byvoorbeeld. Maar daar sou ook gevolge wees vir die grootte, en selfs bestaan, van fakulteite en studierigtings. Niemand sou dit vooraf met sekerheid kon voorspel nie. Om die waagstuk te neem, sou ‘n manier wees om die beste deel van die historiese trajek van Afrikaans en Stellenbosch getrou te wees, en om gedeeltelik vir die apartheid-erfenis te vergoed


Dit sou miskien tot ‘n kleiner universiteit lei, met nuwe gebruike wat gevind moet word vir opvoedkundige geboue. Só ‘n herorientering sou waarskynlik nie verwelkom word deur die plaaslike toerisme- en restaurantbedryf nie. Die konvokasie, wat wel Afrikaans steun, sou miskien in hierdie konteks minder seker wees.


Hierdie is maar ‘n buitestander se oorsig van moontlikhede vir Stellenbosch as Afrikaanse universiteit; d.w.s., ‘n universiteit wat Afrikaans ‘n werklke kans op voortlewing bied. Dié oorsig het sekerlik aanvulling en wysiging nodig. En enige plan van die aard kan ook misluk. (My standpunt is dat die strewe na uitnemendheid is reeds besig om te misluk.) Maar as so ‘n moontlikheid ooit ernstig bespreek en oorweeg is deur die universiteit se leierskap, het dit ‘n geheim gebly.


Is so iets nou nog moontlik? Dit sal heelwat moeiliker wees as twintig jaar gelede, om die minste te sê. Maar die eerste stap is maklik: loop net weg van die ideologie van uitnemendheid en die ranglys-agentskappe; eers dan kan enige universiteit sy eie prioriteite begin vasstel.


Integriteit teenoor uitnemendheid


Die onderliggende visie van die voorstanders van uitnemendheid (akademies en andersins) is van ‘n wêreld waar alles beplan kan word, ook insig en inspiraise. Dit is ook ‘n visie uiteindelik waar daar ook uit alles ‘n wins gemaak kan word, alhoewel die akademie nog iets van ‘n langtermyn belegging is.


Maar dit is nie hoe opvoeding werk nie, en ook nie die intellektule lewe nie, binne die akademie of daarbuite. ‘n Fabriek kan so werk, as al die masjienery reg werk en die werkers is almal op hulle poste. Maar die menslike verstand is nie soos ‘n masjien nie; mense ontdek hulle eie belangstellings en insigte, eerder as om net bevele te volg. Dikwels is dit nie gesag of uitemendheid wat mense erken en volg, maar iets soos die egtheid waarmee iets geglo of gesê word, of die integriteit waarmee die betrokke persoon leef. Jy leer by mense wat self glo wat hulle sê, eerder as dié wat ‘n indruk wil maak.


Integriteit is selde ‘n sentrale deel van ‘n besigheidsplan, hoewel ‘n reputasie daarvoor mag wees. Integriteit kan nie gemeet word nie, of op ‘n ranglys geplaas word nie. ‘n Mens moet leer om integriteit te erken, terwyl uitnemendheid bloot van ‘n ranglys afgelees kan word, en vasgestel kan word deur om publikasies te tel en die rangorde van die tydskrifte waarin dit verskyn, vas te stel.


Integriteit wat deel van ‘n advertensie-veldtog is, is nie meer integriteit nie. ‘n Universiteit wat integriteit geringskat of afskryf, wat dit as hindernis beskou of bloot individuele voorkeur, is maar net ‘n slegte nabootsing van ‘n universiteit. Integriteit kan nie gemeet word nie, maar daarsonder is die akademiese lewe ‘n bedrogspul en ‘n klug.


Hierdie opstel verskyn as gevolg van ‘n reeks van vier opstelle wat ek onlangs geskryf het oor my Stellenbosse leermeester, die filosoof Johan Degenaar, wat in 2015 oorlede is. Ek wou, veral in die derde van hierdie opstelle, beskryf hoe dit was om met hom te gesels en hoe dit so ‘n lewensveranderende uitwerking op ons gehad het. As ons na die lesing met Degenaar iets bespreek het, was ons soms verbaas om te hoor hoe skerp was ons eie insigte, hoe fyn ons vermoë om onderskeidings te maak, hoe sonder moeite ons argumente vorm aangeneem het. Ons was selde bewus daarvan dat Degenaar self—deur die vrae wat hy stel, die frons waarmee hy ons uitnooi om verder te verduidelik, die vreudgde waarmee hy ‘n flinke formulering erken—dit alles vir ons moontlik gemaak het. Ons het weggegaan met nuwe moed vir ons oortuigings, onbewus of half-bewus van hoe hy daardie moed by ons versterk het. https://www.dialectic.co.za/post/degenaars-in-dialogue-part3.


Dit was ‘n lewensverruimende ervaring, maar dit was in sy kern die teenoorgestelde van die uitnemendheid wat Stellenbosch vandag nastreef. Hy het nie erkenning vir homself gesoek nie, en sy talent gewy aan ‘n styl van gesprek wat geen ranglys sou kon omskep in getalle nie. Sy genot in gesprek en sy verset teen die onreg van apartheid was aansteeklik, maar was nooit gerig op sy eie voordeel nie.


Toe ek hierdie LitNet-opstel begin skryf het, het ek gedink ek voer daardie gesprek met Degenaar, wat amper vyftig jaar gelede begin het, nog ‘n stap verder. Maar soos ek hieraan geskryf het, het ek al hoe meer gevind dat die een met wie ek gedagtes ruil, nie so seer Degenaar was nie, maar Ampie Coetzee, my vriend en eertydse kollega op Universiteit van Wes-Kaapland, wat na sy aftrede by die Breytenbach-sentrum in Wellington betrokke was. Degenaar en Coetzee was albei voorstanders van Afrikaans as akademiese taal. Maar Coetzee bly my by vir sy volharding, met sy hele wese, in sy onvermoë om dit wat op Stellenbosch met Afrikaans gebeur, te aanvaar of verstaan.


Daarom wil ek Ampie Coetzee met my opdrag van hierdie opstel onthou. Want, al wil mens wat ookal wil verstaan, die weggooi van ‘n taal behoort eintlik onverstaanbaar te bly.



[1] Hierdie opstel het oorspronklik op 7 April 2021 verskyn by https://www.litnet.co.za/us-taaldebat-2021-die-oortjies-van-die-seekoei/. Komentaar van Litnet-lesers verskyn onderaan die Litnet-artikel. My dank aan Etienne van Heerden vir die uitnodiging.

Comments


bottom of page